|

Oudtshoorn-tak pak ses #OnsDorp-projekte in een naweek aan

Die AfriForum-tak in Oudtshoorn het die afgelope naweek as deel van dié organisasie se #OnsDorp-projek ses aksies aangepak waaronder patrollie ry, bome plant en snoei.

Op Vrydag 13 Oktober skop die tak die naweek op ’n hoë noot af en plant 12 bome by Eljada-Kairos, ’n skool vir kinders met gestremdhede. Daar is tien kareebome en twee witstinkhoutbome geplant. Die idee is dat elke klassie ’n boom aanneem en versorg.

Dié tak het op vorige geleenthede tydens boomplantmaand bome ook elders in die dorp geplant en het daarom ook die geleentheid benut om daardie bome te snoei en nat te lei. Verder het die tak ook vullis op die sypaadjies opgetel en verwyder.

Gedurende die naweek het die tak ook deelgeneem aan AfriForum se nasionale massa-patrollie om sigbaarheid te verhoog.

Op Maandag 16 Oktober het die tak hulle projek in Parkweg voortgesit waar hulle nóg bome geplant het, asook bome gesnoei en vullis in die area opgetel en verwyder het.

“Die grawe het vroegoggend reeds die grond begin tref. Die middelmannetjie is ook skoon geskoffel en ons het die bome se laaghangende takke gesnoei sodat motoriste duidelik die aankomende verkeer kan sien,” sê Johan Conradie, voorsitter van AfriForum se Oudtshoorn-tak.

Laaste het die tak ook besoek afgelê by die Luscombe Parkie waar hulle weer bome gesnoei het en walletjies om die bome gegooi het om te verseker dat die water wat vir die bome bedoel is nie mors nie.

“Ons is trots op ons dorp en daarom sal ons voortgaan om te bou en onderhou,” sluit Conradie af.

Stuur ’n e-pos na voorsitter.oudtshoorn@afriforumtak.co.za om by hierdie tak betrokke te raak of sluit aan by www.wordlid.co.za

Soortgelyke plasings