| |

AfriForum-tak in Heilbron takel die ingange na die Vegkopuitbreiding asook munisipale kwessies

Die AfriForum-tak in Heilbron werk die afgelope twee weke met elke geleentheid wat hulle kry, aan die ingange na die Vegkopuitbreiding, wat feitlik onbegaanbaar is. Die slaggate is tentatief met gruis gevul om die pad rybaar te maak en sal binnekort met teer gevul word. Die span is ook besig om die stormwaterdreinering wat verstop en stukkend is te herstel. Hierdie herstelwerk sal ’n reuseverskil maak aangesien die water wat oorloop as gevolg van oneffektiewe stormwaterdreinering bydra tot die hoeveelheid slaggate in die area.

Die tak het ook vandeesweek ’n skrywe aan die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit gerig oor die haglike toestand waarin die vullisterrein verkeer. Die pad daarheen en daar verby is onbegaanbaar en maak dit vir mense wat aan die anderkant van die terrein woon feitlik onmoontlik om hulle plase te bereik. Die vullis word in die pad af gestrooi omdat daar ook nie ’n pad in die vullisterrein oopgeskraap word nie. Die situasie vererger dus elke dag en die munisipaliteit is gemaan om onmiddellik daaraan aandag te gee.

Misdaad in Heilbron neem toe en daarom hou die AfriForum-tak op 24 Mei om 18:00 by die Gholfklub ’n vergadering om die stigting van ’n AfriForum-buurtwag te bespreek. Lede van die gemeenskap sowel as omliggende plase word genooi om hierdie vergadering by te woon.

“Ons besef dat die inwoners in Heilbron se fondse beperk is en dit plaas druk op plaaslike sekuriteitsfirmas. AfriForum se Heilbron-tak wil hulp verleen aan die betrokke firmas deur die moontlike stigting van ’n buurtwag,” sê Gerrie Muller, AfriForum se takvoorsitter in Heilbron.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is sy baie trots op wat die tak die afgelope tyd in die dorp uitgerig het.

Die tak beplan om hul goeie werk in Junie voort te sit en aangesien dit Jeugmaand is gaan die tak elke week by ’n skool in die groter Heilbron-area iets doen om ’n positiewe verskil te maak.

Die gemeenskap word aangemoedig om by die AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Heilbron” na 45344 (R1)

Soortgelyke plasings