|

AfriForum-tak in Heilbron verfraai dorp

Die AfriForum-tak in Heilbron het op 25 April die park langs die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit skoongemaak, sowel as die area rondom hierdie munisipale gebou en die biblioteek. Die toestand van hierdie perseel het ondraaglik geraak vir die inwoners, daarom is daar ingespring en die gras is gesny, beddings is netjies gemaak en die bome is skoongesny. Verlede week is die oop area oorkant die munisipaliteit opgeruim.

Die tak het verlede week ook die skoonmaakprojek by die dorp se ingang vanaf Petrus Steyn voltooi. Hierdie projek maak ’n groot verskil en die gemeenskap sien die werk raak wat gedoen word. Die gemeenskap het ook donasies gemaak en self hand bygesit om die dorp te verfraai, want projekte soos dié maak hulle weer trots op hul dorp. Die hoof van die plaaslike gevangenis, Zacharia Moholo, het elke keer met ’n span gevangenes opgedaag wat fluks saamgewerk het.

“’n Munisipale amptenaar het vir my gesê dat Francis Moeketsi, die bestuurder in Heilbron wat tans met verlof is, baie bly is dat ons hulle gras sny, maar ek is egter glad nie ingenome daarmee nie. Ons het ’n skrywe aan hom gerig waarin ons verduidelik dat ons die onkoste van hom sal verhaal as hulle nie hul werk begin doen en die dorp in stand hou nie,” sê Gerrie Muller, voorsitter van die Heilbron-tak.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is dit lekker om die verskil in Heilbron te sien en die entoesiasme waarmee die takbestuur hierdie taak aanpak, steek die hele gemeenskap aan.

“Dis egter hartseer dat die gemeenskap die area rondom ’n munisipale gebou moet skoonmaak. ’n Mens besef hoekom die dorp in so ’n swak toestand is as die munisipaliteit dit nie eers die gedeelte om hulle eie geboue kan netjies hou nie,” sluit Pretorius af.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Heilbron” na 45344(R1) en raak betrokke.

Soortgelyke plasings