|

AfriForum-tak in Richardsbaai installeer gevorderde kamerastelsel

Die AfriForum-tak in Richardsbaai het vier gevorderde aMadlozi-kameras, op strategiese plekke in Richardsbaai, geïnstalleer. Hierdie aksie vorm deel van die strategie van die Richardsbaai-tak om van tegnologie gebruik te maak om misdaad in die gemeenskap te help bekamp.

“Ons het besluit om van die aMadlozi-kamerastelsel gebruik te maak aangesien dit alreeds in groot dele van KwaZulu-Natal en Oos-Mpumalanga geïnstalleer is. Die stelsel het bewys dat dit met misdaadbekamping help en het al tot groot suksesse gelei,” sê Ian Rapson, AfriForum se takvoorsitter vir Richardsbaai.

“Die AfriForum-takke in Pongola en Hluhluwe het alreeds van die aMadlozi-kamerastelsel gebruik gemaak en beplan om binnekort ook hierdie stelsel in Paulpietersburg en Vryheid te installeer,” sê Eugene van Aswegen, distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal. 

Hierdie stelsel maak van kameras gebruik wat nommerplate in ’n soekbare databasis kan lees asook ’n kamera wat enige ander beweging in ’n soekbare databasis tussen mense en voertuie opneem. Dié kamerastelsel kan soos ’n alarm gestel word wat op spesifieke tye, of wanneer daar beweging is, afgaan. Die gemeenskappe neem hierdeur veiligheid in hulle eie hande en verseker verantwoordelike, gefokusde en pro-aktiewe optrede wat misdaad hokslaan in gebiede waar aMadlozi-kamerastelsels geïnstalleer word,” sê Pierre Conradie, direkteur van Alpha Security in Hluhluwe.

“Ons hoop om volgende jaar hierdie stelsel verder in ons gemeenskappe uit te brei,” voeg Burger Beukes, tesourier van AfriForum se Richardsbaai-tak by.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak en hierdie stelsel verder in Richardsbaai uit te brei: SMS “Richardsbaai” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings