AfriForum maak reg om die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling hof toe te neem namens Sunfield Home vir gestremdes

Die burgerregteorganisasie AfriForum is gereed om hofstukke teen die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling in te dien nadat dié departement steeds weier om op AfriForum se prokureursbrief te antwoord wat op 22 Augustus, namens Sunfield Home, gestuur is.

AfriForum het tot die saak toegetree nadat die staat vir die afgelope 14 jaar weier om die subsidiebedrag vir Sunfield Home, ’n tehuis vir fisieke en verstandelik gestremde persone, te verhoog. Die departement het gedreig om die staatsgesubsidieerde inwoners te verplaas. AfriForum se prokureursbrief eis dat die departement, eerstens, hul besluit om inwoners te forseer om te skuif heroorweeg en hersien, en tweedens, dat die subsidiebedrag van die tehuis diensooreenkoms tot ’n aanvaarbare bedrag aangepas word.

Volgens Brenda Gouws, die algemene bestuurder van Sunfield Home, het ’n verteenwoordiger van die departement laasweek in ’n onderhoud op nasionale televisie beweer dat hulle reeds ’n vergadering met die tehuis gereël het, wat absoluut onwaar is.

“Baie van die inwoners is op ’n daaglikse basis vreesbevange oor die departement se dreigement dat hulle uit die enigste tuiste wat hulle ken geforseer gaan word. Ons is baie dankbaar dat AfriForum ons in hierdie stryd bystaan om ons inwoners te beskerm,” sluit Gouws af.

“Nadat AfriForum laasweek Sunfield Home besoek het, is ek net meer geskok om te hoor dat enige iemand so wreed kan wees om hierdie liefdevolle tehuis en hulle weerlose inwoners te dreig,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Die regering het duidelik niks uit die Life Esidimeni-tragedie geleer wat hulle deur hul gevoelloosheid veroorsaak het nie. AfriForum sal alles in sy vermoë doen om te verhoed dat dít hier gebeur,” sluit Van Zyl af.

AfriForum se regspan en Sunfield Home wag tans vir moontlike vergaderingdatums vanaf die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling. Indien die departement nie voldoende antwoorde op die eise in ons brief gee nie, is AfriForum gereed om hofstukke in te dien en die departement hof toe te neem.

Soortgelyke plasings