|

AfriForum-tak voorbereid met voorbrande by Krugersdorp-wildtuin

AfriForum se Krugersdorp-tak het Maandag (17 Junie 2024), ter beskerming van die Krugersdorp-wildtuin se ekosisteem, verantwoordelike voorbrande in dié park gemaak. Aangesien grondeienaars verplig word om nie net veldbrande te bestry nie, maar ook te voorkom, is die maak van voorbrande in landelike gebiede, en dus ook by die Krugersdorp-wildtuin, van kritieke belang. Deur middel van hierdie doelbewuste en beheerde voorbrande word die risiko van onbeheerbare veldbrande verminder en die natuurlike habitatte in die wildtuin beskerm.

AfriForum het die voorbrande in samewerking met wildtuinbestuur, die Mogale City-brandweer en brandweerreserviste gemaak om ’n goed gekoördineerde operasie te verseker. Buffersones is geskep om te verhoed dat die vuur na aangrensende gebiede versprei en droë gras en ander brandbare materiaal wat ’n potensiële brandgevaar inhou, is hiertydens verwyder. Voorbrande hou, benewens die beperking van onbeheerde veldbrande, ook voordele in vir die verbetering van grondkwaliteit en stimuleer die hergroei van inheemse plante.

Volgens Jurie Ferreira, AfriForum se koördineerder vir dié gebied, is die voorbrandproses binne enkele ure suksesvol afgehandel. “AfriForum se lede was goed voorbereid en toegerus met die nodige veldbrandtoerusting en beskermende klere en het verseker dat die vuur onder beheer gehou is. Ons is trots op die samewerking en toewyding van ons lede en vennote, en hierdie aksie toon hoe suksesvol gemeenskapsgroepe en omgewingsbewuste organisasies kan saamwerk. Hierdie voorbrande het nie net die gevaar van groot veldbrande, wat dikwels in die wintermaande in die gebied voorkom, aansienlik verminder nie, maar ook bygedra tot die langtermyn gesondheid van die Krugersdorp-wildtuin se unieke ekosisteem,” verduidelik hy.

Die Krugersdorp-tak het deur hierdie projek hul toewyding tot omgewingsbewaring en gemeenskapsveiligheid sowel as die belangrikheid van gemeenskaplike verantwoordelikheid en samewerking beklemtoon. “AfriForum sal voortgaan om inisiatiewe soos dié te ondersteun en aan te moedig om ons gemeenskappe sterker én mooier te maak,” sluit Ferreira af.

Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Krugerdorp-tak en maak sodoende ’n verskil in dié gemeenskap. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings