|

AfriForum veroordeel “diversiteitskursus” by skool en bevraagteken tydsberekening

AfriForum veroordeel die inhoud van die sogenaamde “diversiteitskursus” wat ’n week gelede by Hoërskool Vishoek aangebied is, asook die aanbieder se verontskuldigings dat sy nie kan verstaan waarom die leerders daardeur ontstel is nie.

Die gebeure by die skool is verlede Dinsdag onder AfriForum se aandag gebring. Dit is dadelik met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) opgevolg, wat ewe vinnig reageer het om nie alleen ’n ondersoek te gelas en verdere sessies van die aard op ys te plaas nie, maar ’n ongekwalifiseerde verskoning aangebied en berading vir die leerlinge gereël het. AfriForum en die besorgde ouers is van kontakbesonderhede vir hulp van dié aard voorsien. Dit is jammer dat die sessie hoegenaamd plaasgevind het, maar die optrede na die feite rugbaar geraak het, was vinnig en omvattend.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is die saak kommerwekkend om verskeie redes. “AfriForum se uitgangspunt is deurgaans dat gemeenskappe mekaar met erkenning en respek moet behandel, maar die transkripsies en klankopnames in ons besit, bewys dat daar geen sprake hiervan was tydens die sessie nie. Dit is verregaande dat die kinders verbied is om opnames van die sessie te maak en dat onderwysers van bywoning weerhou is. ’n Bona fide sessie wat polarisasie probeer oorbrug, moet juis opgeneem en wyer gedeel kan word. Onderwysers het die plig om kinders se belange te beskerm en wanneer hulle van gesprekke met leerders weggehou word, flikker gevaarligte,” sê sy.

AfriForum vind dit onaanvaarbaar dat hierdie gebeure op die vooraand van eksamentyd plaasvind. Die aanvegbare inhoud van die sessie het die kinders geweldig ontstel, soos die ouers bevestig en die noodsaak vir die intrede van beraders bewys. Die vraag moet gevra word waarom insidente wat spanning en geweld by skole aanhits so dikwels kort voor eksamens plaasvind.

“Tans word weergawes van die gebeure wyd versprei en sodanige spanning aangewakker, wat glad nie in die belang van die leerders is nie. Die WKOD het die versekering gegee dat die saak ondersoek word en AfriForum sal fyn dophou wat die uitkoms van die ondersoek is en watter verdere stappe nodig is. Ons doen ’n beroep op die belanghebbendes om nie verdere onrus op of om die skoolterrein aan te hits nie. Die belange van die leerders moet nou in ag geneem word,” voeg Bailey by.

Soortgelyke plasings