|

AfriForum Teater help legende van Egoli om KKNK te besoek

Om by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) te wees, is ’n hartsbegeerte waarna Hennie Smit (79), komediant, kunstenaar en akteur, vir jare lank uitsien.

Hy het in die naweek die versugting op Facebook uitgespreek dat hy só dankbaar sal wees as iemand dit vir hom moontlik kan maak om vanjaar se fees in Oudtshoorn by te woon. Want met ’n SASSA-ouderdomspensioen is dit nie moontlik nie.

Carien Bloem, bestuurder, Estel de Beer, inhoudsformuleerder, en Salet Smith, hoof van AfriForum Teater, het sy pleidooi ter harte geneem en die bal aan die rol gesit om sy wens te bewaarheid. AfriForum Teater het betaal vir sy vliegkaartjies, verblyf en om na ’n paar vertonings te gaan kyk.

Carien Bloem en Estel de Beer van AfriForum Teater en die akteur Hennie Smit

Smit het in Suid-Afrikaners se harte gekruip met sy vertolking van die rol van Bertie in die TV-sepie Egoli: Plek van Goud. Dit is spesiaal vir hom geskep. Hy was van 1991 – 2009 hierin te sien.

Hy word in Mei vanjaar tagtig jaar oud en kyk terug op ’n wonderlike loopbaan wat in 1962 begin het toe hy in operakore in Pretoria opgetree het waar hy gestudeer het. Hy het in 36 films en televisiereekse gespeel soos Pretoria O Pretoria! in 1979, Nommer asseblief in 1981, Koöperasiestories in 1983, Tawwe Tienies in 1984 as Bulletjie Brits, You Must Be Joking Too! in 1987 as Sooi en Vrou soek boer in 2014 as Oom Flip.

Oor die KKNK sê hy dit is vir hom soos ’n Indaba en weersiens. “En om na al die talent te kan kom kyk, beteken vir my die wêreld. Ek kan nooit genoeg dankie sê vir AfriForum Teater se mooi gebaar nie.”

Hennie Smit

Hy hoop om verskeie vertonings by te woon en sien veral uit na David Kramer se nuwe musiekblyspel Ver in die wêreld Kittie. Hy het reeds Mixtape van die liefde, ‘n digbundel saamgestel deur Antjie Krog, gesien wat “ongelooflik” is.

Teatergangers by die KKNK

Oor akteurskap en die feit dat baie kunstenaars, veral ná Covid, swaarkry, sê hy dit is moeilik om met ’n karige pensioen te oorleef. “Maar ek is steeds gebless en daar is mense wat my finansieel ondersteun.”

Dit is duidelik dat die salarisse wat akteurs en kunstenaar soos hy destyds verdien het, nie vandag enigsins genoeg is nie. Jongmense begin vandag met daardie soort salarisse. “Maar ek is baie geseënd met mense wat my ondersteun soos AfriForum Teater wat my kunstefees toe gevlieg het en vir brood in die mond gesorg het.”

Sy boodskap aan AfriForum is: “Moenie moed opgee nie. Doen wat julle moet vir die kunste. Daar is baie kompetisie in Pretoria en nie net een teater soos in De Aar nie. Om voort te bestaan, moet julle anders wees en Afrikaners bly trek. Hier waar ek in Oudtshoorn loop hoor ek nie Engels nie. Dit is julle mark. En as daar enigiets is wat ek kan doen om julle teater te bevorder, sal ek dit met liefde doen.”

Smit het self ook spore by die KKNK getrap en onthou hoogtepunte soos die heel eerste buitelugkonserte in die dae toe hy nog klavier gespeel en gesing het. Nog ’n hoogtepunt was ’n optrede destyds saam met wyle Bles Bridges. “Dit was wonderlike dae en ook die feit dat ek self hier kon wees.”

Soortgelyke plasings