AfriForum-teenboelieveldtog skop 2019 af met besoek aan Laerskool Kruinsig


Die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 10 Januarie 2019 besoek by die Laerskool Kruinsig in Kempton Park afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in.

“AfriForum wil met sy teenboeliepraatjies saam met leerders, onderwysers en ouers werk om afknouery in skole stop te sit en alle betrokke partye met die kennis toerus om dít te doen. Ons gee ook aan elke onderwyser ’n teenboeliegids wat raad aan hulle bied oor hoe om boelies te hanteer, asook ’n paar aktiwiteite wat hulle met die kinders kan doen wat as bewusmaking dien,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.
“By Kruinies is ons slagspreuk ‘glo en oorwin’. Ons wil graag hê dat elke leerder tot sy volle potensiaal onwikkel om hulself teen boelies te kan beskerm – daarom is AfriForum se teenboelieveldtog só broodnodig,” sê Johan Kruger, hoof van die Laerskool Kruinsig.

Stuur ’n e-pos na leandie.brasler@afriforum.co.za indien jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings