|

AfriForum-teenboelieveldtogspan en Matteus besoek Wes-Kaapse skole

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan en Matteus het in Oktober vanjaar besoek afgelê by Laerskool Laurus in Oudtshoorn en Laerskool Park in Mosselbaai, asook by Dysselsdorp Primêr, Sint Konrad (RK) Primêr en P.J. Badenhorst Primêr in Dysselsdorp. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in oor hoe hulle hulself op die skoolterrein kan beskerm. Dit is vir AfriForum belangrik om saam met skole te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word met die kennis toegerus om dit reg te kry.

“Dit is vir ons belangrik dat leerders die verskil tussen konflik en afknouery verstaan. Hulle moet ook ingelig wees oor wat hulle moet doen as hulle geboelie word. Die doel van hierdie veldtog is om leerders te leer om as leiers op te tree deur enige vorm van afknouery te ontmoedig, op te staan vir wat reg is en ’n verskil in hul skool en gemeenskap te maak,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir junior jeugleierskap.

“Laerskool Laurus is ’n waardegedrewe skool waar leerders wortel skiet en onder professionele leiding kan groei om hul volle potensiaal te bereik. Samewerking, lojaliteit, uithouvermoë, respek en aanvaarding van ander is vir ons baie belangrik, veral as dit by bewusmaking oor afknouery kom,” sê Ronelle Huysamen, hoof van die Laerskool Laurus.

“Ons is dankbaar vir die bekwame span van AfriForum se besoek. Die voorlegging is prakties en treffend aangebied, en die leerders het aandagtig geluister. Dit is vir ons belangrik om kinders van jonk af te leer om goeie waardes te kweek en respek teenoor hul medemens te toon. Ons sien daarna uit om weer met AfriForum se span saam te werk,” sê Wilma Espach, maatskaplike werker van die Wes-Kaapse onderwysdepartement.

“Dit was werklik ’n aangename, praktiese aanbieding wat kwessie oor afknouery op toepaslike wyse vir ons hedendaagse jongmense aanbied. AfriForum se teenboelieveldtogspan se passie was duidelik  sigbaar in die entoesiasme waarmee hulle die leerders benader. Mag AfriForum voortgaan om jongmense se lewens te verryk met vaardighede om afknouery en ander lewensuitdagings die hoof te bied,” sê Marisa Lindeque, maatskaplike werker van die Wes-Kaapse onderwysdepartement.

“In Laerskool Park leer elke leerder om –
P –  persoonlike trots te ontwikkel;
A –  aanspreeklikheid en verantwoordelikheid vir hul dade en optrede te aanvaar;
R – respek vir hulself, ouers, onderwyser en maats te hê;
K –  ’n kind van Christus te wees;
I –   ingestel te wees om elke geleentheid te gebruik; en
E – eerlik te wees.
“Daarom was hierdie aanbieding oor en bewusmaking van afknouery so gepas, want dit sluit goed by die bogenoemde aan,” sê Daan du Toit, hoof van Laerskool Park.

Die teenboelieveldtogspan wil ook vir Eloise Jackson, ’n maatskaplike hulpwerker van ACVV Dysselsdorp bedank dat sy hulle genader het om die skole in Dysselsdorp te besoek. Die span hoop om in die toekoms weer ’n draai daar te maak.

Stuur ’n e-pos aan leandie.brasler@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Klik hier om die teenboeliegids gratis af te laai.

Soortgelyke plasings