|

AfriForum teleurgestel omdat hof Parys se waterkwessie nie as dringend beskou nie

Die voortslepende stryd oor die drinkwatergehalte in Parys het gister in die hof gedraai nadat AfriForum ’n dringende hofbevel gebring het wat versoek dat die munisipaliteit onmiddellik aandag aan die swak gehalte van kraanwater moet gee en dat die inwoners binne ’n maand toegang tot skoon water moet hê. Die regter het die saak egter nie as dringend beskou nie en die saak van die rol verwyder – ten spyte daarvan dat daar steeds fekale kolivormige bakterieë en wurms in die water voorkom.

Na AfriForum se tweede brief aan die munisipaliteit het laasgenoemde AfriForum wel versoek om met hulle te vergader, maar die hofproses was toe reeds aan die gang. AfriForum sal egter steeds met die munisipaliteit vergader, omdat die saak oor veilige water vir die gemeenskap gaan.

Die AfriForum-tak in Parys het intussen ’n watertenk by die N.G. Kerk-Suid opgerig, waar boorgatwater vir die publiek beskikbaar is. ’n Monster van dié water word tans by ’n labAforatorium getoets om seker te maak dat dit vir menslike gebruik geskik is. Die publiek sal oor die uitslag in kennis gestel word. Daar is ook waterpunte in Sasolburg en Vanderbijlpark, waar plaaslike AfriForum-takke water insamel om dit in Parys te versprei.

“Hoewel ons baie teleurgesteld is dat die inwoners van Parys se welstand klaarblyklik nie vir die hof belangrik genoeg is nie, sal ons nie ophou om druk op die munisipaliteit te plaas oor die gehalte van Parys se drinkwater nie – elke inwoner het die reg tot skoon drinkwater en dit is immers die munisipaliteit se plig om dit te verskaf. Ons is steeds bereid om tydens die vergadering saam met die munisipaliteit na oplossings te soek,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Soortgelyke plasings