AfriForum vandag in hof oor Zuma se vrylating

Die burgerregteorganisasie AfriForum was vandag in die Noord-Gautengse Hooggeregshof ná die organisasie die hof in September met ’n dringende aansoek genader het om die wettigheid van Arthur Fraser, voormalige nasionale kommissaris van Korrektiewe Dienste, se besluit om mediese parool aan oudpresident Jacob Zuma toe te staan, te hersien.

AfriForum het vandag in die hof volgehou dat Fraser se besluit onwettig was en tersyde gestel moet word waarna Zuma weer aan die Departement van Korrektiewe Dienste oorhandig moet word om die res van sy vonnis uit te dien. 

AfriForum het op 5 September, kort ná Zuma se vrylating, ’n dringende prokureursbrief aan Fraser beteken in sy hoedanigheid as nasionale kommissaris van Korrektiewe Dienste, waarin antwoorde oor Zuma se vrylating versoek is. Die brief het onder meer gevra:

  • of Zuma aan ’n terminale siekte ly wat sy mediese parool regverdig.
  • As Zuma nié met ’n terminale siekte gediagnoseer is nie moet besonderhede oor die aard van sy besering, siekte of kwaal wat mediese parool regverdig bekendgemaak word.
  • Gegewe Zuma se goed gepubliseerde weiering om deur dokters ondersoek te word wat deur die Nasionale Vervolgingsgesag aangestel is, ongeag duidelike voorskrifte deur die KwaZulu-Natalse Hooggeregshof, word volledige terugvoer versoek oor Fraser se gevolgtrekking dat daar nié ’n risiko is dat Zuma weer sal oortree nie.
  • ’n Afskrif van die aansoek om mediese parool, in die voorgeskrewe formaat, wat deur Fraser oorweeg is.
  • ’n Afskrif van die mediese verslag wat aanbeveel dat Zuma op mediese parool geplaas moet word.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, sê hierdie is ’n saak van nasionale belang, en dat dit ’n skande is indien mense op grond van hulle politieke aansien voordelig behandel word.

“Daar kan nie in die strafregstelsel plek gemaak word vir dubbele standaarde wat spesiale behandeling gee aan politici en ander hooggeplaastes wanneer dit kom by die uitdien van vonnisse nie. Geregtigheid moet ook in hierdie saak geskied sodat die publiek nie verder vertroue verloor in die stelsel nie. AfriForum het nie ’n probleem met Zuma se mediese vrylating indien dit waar is dat hy terminaal siek is of op enige ander wyse aan die voorskrifte van die wet voldoen nie. Die aksies en uitsprake van die Departement van Korrektiewe Dienste dui egter daarop dat hier politieke inmenging betrokke is. Mediaberigte kort ná Zuma se vrylating wat gespekuleer het oor president Cyril Ramaphosa se betrokkenheid by dié besluit het dit ook verder bevestig dat die president nie ernstig is daaroor om korrupsie en misdaad in die regering en die regerende party aan te pak en stop te sit nie en dat die huidige president steeds sy mede-ANC-kaders bo die reg en die land plaas,” sluit Roets af.

Soortgelyke plasings