|

Bethlehem-takbestuur wil volhoubare groei in gemeenskap teweegbring

Die bestuur van AfriForum se Bethlehem-tak het onlangs herorganiseer en is reeds vol planne vir verskeie projekte in dié dorp. Hul eerste projek is ook reeds afgehandel.

Die  nuwe bestuur lyk só: Juandre Gelderblom (voorsitter), Leamy Hamer (ondervoorsitter), Mark Ikking (tesourier), Elske Gelderblom (sekretaresse), Gerald Britt (plaaslikeregering- en omgewingsake), Tertius du Preez (erfenis- en kultuursake) en Ian van Straaten (gemeenskapsveiligheid en hommeltuigvlieënier).

Die eerste projek onder die nuwe bestuur was om die watervoor in Golfstraat skoon te maak. Dié watervoor word al vir jare as ’n vullishoop gebruik en was toegegroei onder onkruid.

“Hierdie aksie was maar net die begin. Ons het baie aksies wat binnekort voorlê en dan ook projekte en aksies wat ons nog beplan vir die res van die jaar,” sê Juandre Gelderblom.

Die tak gaan onder meer op Maandag 29 April die museum se terrein netjies maak en gras sny. Op Dinsdag 30 April gaan hulle begin om vullis uit die rivier, wat onderdeur die N5 loop, te verwyder. Die straatvore en stormwaterslote sal ook deurlopend skoongemaak word aangesien dit telkens as vullishope gebruik word en verstop. Die tak sal ook later padtekens oorverf en borde vervang waar dit nodig is.

Volgens Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, is sy opgewonde oor die projekte wat voorlê. “Dis werklik ’n voorreg om saam met ywerige taklede soos hierdie te werk. Ons kan nie genoeg dankie sê vir die onbaatsugtige wyse waarop hulle die gemeenskap dien nie.”

Soortgelyke plasings