AfriForum verleen regshulp aan Dundee-boer

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag aangekondig dat hy Garth Simpson van Dundee met regshulp sal bystaan. Simpson word van moord aangekla ná ’n voorval op sy plaas enkele weke gelede. AfriForum het tydens ’n mediakonferensie verduidelik dat die organisasie by hierdie saak betrokke raak omdat dit lyk of Simpson ’n baie goeie verweer openbaar en moontlik suksesvol sal wees in sy verdediging, mits hy goeie regshulp het tydens die verhoor en nie die slagoffer word van nou al holruggeryde politieke en rasgebaseerde aantygings nie.

AfriForum het reeds in hierdie verband aan sy prokureurs Hurter Spies Ing. opdrag gegee en ’n advokaat is reeds vir hierdie doel aangestel.

AfriForum het die strafregkenner dr. Llewelyn Curlewis aangestel om die saak te ondersoek en aanbevelings aan AfriForum te maak. Curlewis het vandag verduidelik dat Simpson se weergawe vanuit suiwer regsbeginsels ’n volwaardige verweer teen die klagte(s) sal hê indien dit deur die hof aanvaar word en dat dit boonop onomwonde deur selfoonvideogetuienis gestaaf word.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, sê dat AfriForum as ’n reël nie by individuele sake betrokke raak nie, maar dat die organisasie wel by hierdie saak betrokke geraak het omdat daar groter kwessies ter sprake is wat nie net die beskuldigde raak nie, maar die breër gemeenskap. Roets beskryf die gebeure by Dundee as tragies. Volgens Roets moet die saak deeglik ondersoek word en geregtigheid moet geskied. “Die feit is dat verskeie nasionale knelpunte op hierdie saak uitspeel. Boere en mense in landelike gebiede word daagliks met die werklikheid van plaasmoorde, grondbesettings, dreigemente van onteiening, groeiende misdaadsyfers en ’n ondoeltreffende polisiediens gekonfronteer. In hierdie omstandighede is dit onafwendbaar dat tragiese voorvalle soos hierdie op plase sal afspeel.”

Soortgelyke plasings