|

Kimberley-buurtwag bemagtig veiligheidstrukture met opleiding

AfriForum se Kimberley-buurtwag het die afgelope maand verskeie opleidingsessies bygewoon wat deur AfriForum Gemeenskapsveiligheid vir onder andere buurtwag-, inligtingspan-, operasiespan- en steunspanleiers aangebied is. 

Alwyn Swart, Gerhard Schoeman (buurtwagleiers), Mizanne Fritz en Marius Nagel (inligtingspanleiers), Jannie Engelbrecht  (protospanlede) en Joey Schoeman (steunspanleier) het die onderskeie kursusse suksesvol voltooi en gaan nou op die bestuur van AfriForum se Kimberley-buurtwag dien.

“Ons is baie opgewonde oor die nuwe buurtwagbestuur. Hulle het reeds goeie planne vir die buurtwag en ons wens hulle alle sterkte toe. Dankie vir elkeen se bereidwilligheid om ’n verskil te maak en die buurtwag na nuwe hoogtes te neem,” sê Henko Visser, voorsitter van AfriForum se Kimberley-tak.

“Ons is baie trots op al ons buurtwaglede wat hulself beskikbaar stel om hul gemeenskappe op so ’n onbaatsugtige manier te dien. Ons as AfriForum sal voortgaan om te verseker dat lede gehalte opleiding ontvang om sodoende so effektief moontlik te funksioneer,” sê Lize-Mari van der Linden, distrikskoördineerder vir die Karoo. 

Lede van die gemeenskap word aanmoedig om by die beveiliging van hul gemeenskappe betrokke te raak en by hul naaste AfriForum-buurtwag aan te sluit. 

Stuur ’n SMS na 066 321 1074 om by AfriForum se Kimberley-buurtwag betrokke te raak. 

Soortgelyke plasings