|

AfriForum versoek dringende afspraak met minister oor Afrikaanse Taalmonument

Die burgerregteorganisasie AfriForum het met kommer kennis geneem van die Minister van Sport, Kuns en Kultuur, Nathi Mthethwa se skynbare planne om die naam van die Afrikaanse Taalmonument en -museum te verander deur “Afrikaanse” uit die naam te verwyder en om aan die instelling ’n sogenaamde meer inklusiewe aard te gee.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, sal die verandering van die naam en fokus van die instelling gemeenskappe in die land net verder polariseer. “Afrikaners en Afrikaanssprekendes het die reg, soos enige ander gemeenskap in die wêreld, op die gebruik van hulle taal en op erfenisbakens wat hulle bydrae tot die geskiedenis van die land herdenk. Dit is ’n reg wat ook in die aanhef van die Suid-Afrikaanse Grondwet erken word,” sê Bailey.

Die Afrikaanse Taalmonument en -museum is volgens Bailey een van die mees inklusiewe instellings in die land wat al dekades lank brûe na alle gemeenskappe bou.

“Mthethwa en ander regeringslui se herhaaldelike aanslae teen Afrikaanse erfenisbakens en die taal self, skep ongelukkig die indruk dat inklusiwiteit of nasiebou nie deel van die agenda is nie, maar slegs weerwraak teen een spesifieke gemeenskap,” voeg Bailey by.

In die lig van die kommer oor die toekoms van die monument en museum, asook die polarisasie wat die minister se beplande optrede kan veroorsaak, het AfriForum ’n dringende afspraak met hom aangevra. ’n Peiling is ook onder die sowat 301 700 lede van AfriForum en die publiek oor die algemeen geloods om hulle standpunt in dié verband aan minister Mthethwa en die bestuur van die instelling oor te dra.

Soortgelyke plasings