|

AFRIFORUM-VEILIGHEIDSTRUKTURE IN SUIDSTREEK NEEM AAN NASIONALE PATROLLIE DEEL

AfriForum se veiligheidstrukture in die Noord-, Wes-, Suid- en Oos-Kaap het van 30 tot 31 Julie 2021 aan ’n uiters suksesvolle nasionale patrollie deelgeneem.  

Hoewel minder AfriForum-lede aan hierdie patrollie deelgeneem het in vergelyking met vorige patrollies – hoofsaaklik weens COVID-19, boerderywerksaamhede en algemene wintersiektes – was daar wel ’n 91%-verhoging in deelname deur nie-AfriForum-lede. Dit sluit verhoogde betrokkenheid deur die SAPD en ander veiligheidstrukture in die omgewing in. Nagenoeg 400 voertuie het altesaam 14 000 km in twee dae afgelê, terwyl altesaam 43 voorvalle hanteer is. 

Hierdie patrollie het ook as ’n geleentheid vir buurtwagte gedien om na hul onderskeie gemeenskappe uit te reik. Buurtwaglede het onder meer kerrie-en-rys en kospakkies by plaaslike polisiestasies uitgedeel om die bestaande goeie verhoudings tussen die SAPD en buurtwagte selfs verder uit te bou.  

Die patrollie het ten doel gehad om hoë sigbaarheid te handhaaf en dit is bereik deur voertuie in ’n konvooi deur dorpe te laat ry, padblokkades saam met die SAPD te hou, kwaadstokers uit woongebiede te verwyder en beslag te lê op ’n verskeidenheid onwettige, tuisgemaakte wapens.  

“Veiligheid is in almal se belang en daarom is dit belangrik dat ons almal saamwerk om verhoogde vlakke van veiligheid in ons gemeenskappe te bewerkstellig. Die regering het steeds nie die vermoë of die wil om gemeenskappe te beveilig nie en daarom word ons genoodsaak om dit self te doen,” sê Mark Kuys, AfriForum se veiligheidshoof vir die suidstreek.  

“Die nasionale patrollies het ook ten doel om verhoudings tussen veiligheidstrukture te bevorder en verskaf die ideale platform om hierdie samewerking tussen AfriForum-buurtwagte, die SAPD, sekuriteitsmaatskappye en ander plaaslike buurtwagte te bewerkstellig en aan te moedig,” sluit Kuys af.  

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-veiligheidstruktuur betrokke en help sodoende om misdaad te bekamp: SMS jou naam na 45353 (R1) of kontak jou naaste AfriForum-tak of -veiligheidstruktuur. 

Soortgelyke plasings