|

AfriForum verwelkom hof se beslissing oor ontslagaansoek

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ’n oorwinning behaal in sy strewe na geregtigheid in ’n saak van geslagsgebaseerde geweld. Die Streekhof in Somerset-Oos het ’n aansoek om ontslag wat deur ’n beskuldigde in ’n verkragtingsaak gebring is, van die hand gewys. Isaac Andile Memese sal nou sy verdediging moet voorberei vir wanneer die saak in Desember hervat. Hy word daarvan aangekla dat hy Celeste Gouws in 2017 verkrag het.

Landdros Eric Mbiyo het in sy uitspraak gesê: “Uit al die bewyse wat op hierdie stadium aan hierdie hof voorgelê is, is die mening van die hof dat daar getuienis is waarop die beskuldigde skuldig bevind kan word aan die misdryf waarop hy aangekla is, en dit is om daardie rede dat die aansoek van die hand gewys word.”

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vroeër aangevoer dat die eenheid ’n sterk saak het. “Daar is tans ’n bo redelike twyfel saak. Die beskuldigde kan homself slegs verontskuldig indien hy getuig. Dit is nie die geval dat die beskuldigde homself kan inkrimineer nie. Die saak vir vervolging is beslis sterk,” sê Nel.

Nel het sy saak in Februarie vanjaar afgesluit, nadat hy verskeie getuienisse, waaronder Gouws se getuienis, gelei het. Sy is in 2017 in haar huis verkrag nadat sy vermoedelik bedwelm is. Die Direkteur van Openbare Vervolging in die Oos-Kaap het aanvanklik geweier om Memese te vervolg ondanks oorweldigende bewyse teen hom.

AfriForum meen die beskuldigde is voorheen teen vervolging beskerm omdat Memese en sy familie politieke bande het.

Gouws het voorheen oor die gebeure op die aand van die voorval getuig. Adv. Nel het ook kringtelevisiebeeldmateriaal in die hof gewys, wat duidelik wys hoe Memese herhaaldelik by Gouws aanlê, aan haar raak en haar probeer soen. Sy het dié toenaderings keer op keer geweier. Gouws het getuig dat Memese herhaaldelik aangedring het dat sy saam met hom moet bad. Die beeldmateriaal wys ook hoe Memese in ’n stadium sy eie glas met Gouws s’n ruil, waarna sy binne minute onstabiel begin raak. Memese drink daarna nie weer self uit dié glas nie. 

Gouws moes uiteindelik ’n vriend kontak om haar te kom geselskap hou by die gastehuis wat sy bedryf het, omdat Memese nie sy onvanpaste gedrag wou staak nie. Nadat die vriend Memese uitgesien het, wys die beeldmateriaal hoe die beskuldigde minute later weer die huis binneglip en Gouws uiteindelik na haar slaapkamer dwing. 

Andrew Leask, hoofondersoeker by die privaatvervolgingseenheid, het gesê: “Ons is verheug dat die hof die aansoek van die hand gewys het. Dit het ons oortuiging bevestig dat ons ’n sterk saak teen die beskuldigde het. Dit verstom ons steeds dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) besluit het om Memese nie te vervolg nie. Hierdie uitspraak is ’n verdere aanklag teen die NVG omdat hulle nie die saak voortgesit het nie. In ’n land wat deur die plaag van geslagsgebaseerde geweld geteister word, kom ons te dikwels gevalle teë waar die NVG se verpligtinge om hierdie misdade aan te spreek blote lippediens is. Hierdie is ’n sprekende voorbeeld daarvan.”

Die saak hervat weer 1, 2, 5 en 6 Desember 2022 wanneer die verdediging hulle saak sal stel.

Soortgelyke plasings