|

Neem standpunt in teen die Bela-konsepwet – daar is nog tyd!

Op 14 Junie 2022 het AfriForum omvattende kommentaar op die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (ook bekend as die Bela-konsepwet) ingedien.

Daarin is die standpunt dat van die voorgestelde wysigings in die konsepwet ongrondwetlik is en Afrikaanse moedertaalonderrig bedreig, duidelik gemotiveer. Dit kan hier gelees word. Verskeie ander organisasies soos Solidariteit, Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum, die Afrikaanse Onderwysnetwerk, die Kaapse Forum en die DAK-netwerk, het dieselfde mening uitgespreek. Die standpunt is ook in ’n ope brief wat op 5 Junie 2022 in Rapport verskyn het, aan die minister van Onderwys, Angie Motshekga, oorgedra.

Die minister het op 2 Julie 2022 in ’n persoonlike skrywe aan AfriForum ontken dat die konsepwet daarop gerig is om Afrikaanssprekendes van toegang tot moedertaalonderrig te ontneem, maar die Gautengse LUR van Onderwys, Panyaza Lesufi, het tydens ’n sitting van die Gautengse wetgewer op 21 Junie 2022 dit duidelik gemaak dat die konsepwet ’n sleutel tot die finale vernietiging van enkelmedium Afrikaanse skole is.

“Any notion that wants to promote an idea that a school must belong to one language group alone must be defeated … It cannot be one school, one language; it should be one school, all languages”, het hy verklaar.

Volgens Lesufi kan kinders wat een moedertaal praat, nie kinders met ’n ander moedertaal leer respekteer as hulle nie almal op een skoolterrein saam is nie. Dit is nogal ’n problematiese idee in ’n land met elf amptelike tale, plus gebaretaal en etlike honderde immigrantetaalgroepe. Die onuitvoerbaarheid van sy voorstel dat elke skool ten minste drie onderrigtale moet huisves, spreek vanself en maak ook weer duidelik waarom die Bela-konsepwet teengestaan moet word.

Aanvanklik is aangekondig dat die publiek se geleentheid om kommentaar op die konsepwet te lewer, op 15 Junie 2022 sou sluit, maar in die laaste week van Junie is besluit dat die tydperk tot 15 Augustus 2022 verleng word. Almal wat nog nie kommentaar daarop gelewer het nie, het dus steeds ’n kans om hulle stemme te laat hoor.

Sedert Februarie het AfriForum verskeie artikels, ’n video, asook gesprekke met deskundiges beskikbaar gestel om mense oor die inhoud van die konsepwet in te lig.

In AfriForum se gesprek met prof. Elirea Bornman en adv. Albert Lamey, het prof. Bornman herinner dat wanneer ’n ouer nie moedertaalonderrig vir sy kind eis nie, hy/sy die tweede beste vir die kind kies. Om dié rede is die beskerming van onderwysinstellings se Afrikaanse taalbeleide noodsaaklik. Adv. Lamey het beklemtoon dat die wetsontwerp daarop gemik is om besluite oor skole se taal- en toelatingsbeleid te sentraliseer en in die hande van die staat te plaas, wat irrasioneel is en in wese op ’n aanval op grondvlakdemokrasie neerkom. Benewens die video van die gesprek, kan ’n opsomming daarvan deur Alet Rademeyer ook op AfriForum se webtuiste gelees word.

Kritiek op die wetsontwerp is beslis nie net tot die Afrikaanse gemeenskap beperk nie. Dr. Anthea Jeffery, hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge se afdeling vir Beleidsnavorsing, het byvoorbeeld in haar gesprek met AfriForum onderstreep watter gevare hierdie magsentralisasie vir alle Suid-Afrikaanse gemeenskappe inhou.

Die aanlyn petisie wat deur AfriForum geloods is om steun teen die wetsontwerp te verkry, is steeds beskikbaar. Ondersteun asseblief hierdie veldtog teen wetgewing wat ons geliefde taal Afrikaans en ons taalregte ingrypend kan benadeel.

Soortgelyke plasings