|

AfriForum verwelkom insluiting van plaasmoorde in SAPD-misdaadstatistieke; versoek meer besonderhede

Die burgerregteorganisasie AfriForum het die insluiting van plaasmoorde onder die opskrif “Geweld op plase en hoewes” in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se 2018/2019-misdaadstatistieke verwelkom. Terselfdertyd het die organisasie ’n beroep op die SAPD gedoen om ’n meer gedetailleerde afdeling van sowel plaasaanvalle as plaasmoorde in sy toekomstige statistieke in te sluit om erkenning aan die impak daarvan op plattelandse gemeenskappe te gee.

“Hoewel ons begrip daarvoor het dat die statistiekverslag oor die algemeen slegte nuus is vir Suid-Afrika en sy burgers, voel ons dat slegs een skyfie oor 47 plaasmoorde en 36 ander gevalle wat met plaasgeweld verband hou nie die ware omvang en impak weerspieël van die 418 plaasaanvalle en 48 moorde wat AfriForum oor dieselfde tydperk aangeteken het nie,” sê Guido Urlings, inligtingsbestuurder vir gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

Hoewel die aantal plaasaanvalle steeds skrikwekkend hoog is, is AfriForum dankbaar dat plaasmoorde – hetsy 47 of 48 vir die afgelope finansiële jaar – ’n laagtepunt sedert 1994 bereik het.

“Ons glo dat baie boere en plattelandse gemeenskappe nou ’n vlak van paraatheid en organisasievermoë bereik het wat hulle in staat stel om aanvallers doeltreffend af te weer of moontlike aanvallers af te skrik. Ons sien al meer berigte oor boere, plaaswerkers en ander wat hulself suksesvol teen wrede aanvallers verdedig het, of dié aanvallers baie gou ná die aanval aangekeer het. Ons moedig alle boere, hul gesinne en werkers, asook plattelandse gemeenskappe aan om plaas- of buurtwagte te stig en die aantal aanvalle en veral moorde verder te verminder,” sê Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder by AfriForum.

Boere en ander mense wat daarin belangstel om ’n plaas- of buurtwag in hul omgewings te stig, kan gerus AfriForum se gemeenskapsake-afdeling by veiligheid@afriforum.co.za kontak.

Soortgelyke plasings