|

AfriForum Holrivierplaaswag buite Lutzville staan plaasaanvalslagoffers by

AfriForum se Holrivierplaaswag buite Lutzville, in die noordwestelike deel van die Wes-Kaap, het na afloop van ’n plaasaanval op twee bejaarde inwoners van ’n plaas buite Lutzville die afgelope naweek, ingegryp om dié slagoffers te ondersteun.

Die aanval het Sondag 3 Maart teen omstreeks 02:00 plaasgevind toe minstens vier aanvallers Awie Agenbag (71) en Estelle Agenbag (68) se huis op hul plaas Kleinplasie binnegedring het.

Awie was in die sitkamer doenig en Estelle in die slaapkamer toe die aanvallers hulle oorval het. Die egpaar is aangerand, in hul slaapkamer ingeboender en vasgebind, waarna die aanvallers die huis geplunder het, soekend na waardevolle items. Die aanvallers het die toneel gevlug met ’n onbevestigde bedrag kontant en ander items van waarde, insluitende juwele.

Die egpaar se tuinier het die volgende oggend, teen ongeveer 09:30, op die paartjie afgekom waar hulle steeds vasgebind was. Hy het die kamerdeur afgebreek om toegang tot die Agenbags te kry. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die plaaslike AfriForum-plaaswag is na die toneel ontbied.

Die egpaar word tans deur die gemeenskap bygestaan en AfriForum sal ook traumabystand aan hulle lewer.

Volgens David Olivier, AfriForum se veiligheidshoof in die Suidstreek, is dit belangrik dat mense betrokke raak by die veiligheidstrukture in hul gemeenskap, maar ook dat hulle seker maak dat daar ’n doeltreffende stelsel is waarvolgens hulp ontbied kan word. “Daar is nog te veel slagoffers wat onverhoeds betrap word en nie suksesvol hulp kan ontbied nie,” verduidelik Olivier.

Olivier gaan voort deur te sê dat doeltreffende veiligheidsoperasies kriminele as’t ware uit gebiede verdring. Hy benadruk egter dat die gemeenskap se betrokkenheid noodsaaklik is hiervoor. “Dit is tyd dat Suid-Afrikaners ’n veiligheidskultuur ontwikkel,” sluit hy af.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig: SMS “Buurtwag” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings