|

Getuie staaf getuienis van slagoffer van seksuele aanranding

Op dag twee van die verhoor van prokureur Vuyo Mtati, wat daarvan aangekla word dat hy adv. Mpho Rasivetshele seksueel aangerand het, het die staat se getuie die klaer se weergawe van die gebeure gestaaf. Mtati het na bewering Rasivhetshele, ’n voormalige getuienisleier in die Zondo-kommissie oor staatskaping, op die aand van 7 Desember 2019 by ’n sosiale byeenkoms betas. Sy het ’n strafregtelike klag teen die beskuldigde ingedien, maar die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aanvanklik besluit om nie te vervolg nie. Dit is toe dat sy AfriForum se privaatvervolgingseenheid genader het.

Die eenheid het vertoë gerig aan adv. Andrew Chauke, die direkteur van openbare vervolging in Gauteng (DOV), in Oktober 2021 omdat geen strafregtelike stappe tot op daardie stadium teen die waarnemende regter ingestel is nie. Die DOV se kantoor het in Februarie 2022 in ’n brief aan AfriForum se privaatvervolgingseenheid aangedui dat hulle, na ontvangs van die vertoë, die beskuldigde sal vervolg.

Rasivhetshele het getuig dat Mtati haar op die dag van die partytjie herhaaldelik gepla en onvanpaste opmerkings gemaak het. Sy het by twee geleenthede ander mense by die partytjie genader om oor sy optrede te kla. Ten spyte hiervan het hy later glo haar vagina van agter gegryp toe sy verby hom gestap het. 

Adv. Phillip Mahlatsi was die eerste persoon by wie Rasivhetshele die aand gekla het. “Mpho het na my toe gekom en vir my gesê dat Mtati haar pla, by haar aanlê en hy het gesê dat sy sy meisie gaan wees. Ek kon sien dat sy nie gelukkig was oor die situasie nie. Ek het na Mtati gegaan en ek het vir hom gesê daar is ’n klagte. Ek het gesê, ‘hou asseblief op’,” het hy getuig.

Mahlatse het verder getuig dat Rasivhetshele vir ’n tweede keer by hom sowel as die gasheer van die partytjie gekla het oor Mtati se optrede. Hy sê dit was hierna dat Mtati gevra is om die partytjie te verlaat. Mahatse was onder die indruk dat Mtati die partytjie verlaat het. “Eweskielik is die musiek afgeskakel en Mpho was histeries. Sy het gehuil, vir Mtati gevloek en gesê dat hy aan haar geraak het. Ek kan nie presies onthou wat sy gesê het nie, maar die indruk was dat hy haar privaat dele aangeraak het. Ons moes verseker dat Mtati gaan. Hy is toe weg,” het Mahlatse gesê.

Die aanklaer het Mahlatsi gevra hoe Mtati gereageer het toe hy vroeër die aand gevra is om te die partytjie te verlaat nadat Rasivhetshele oor sy gedrag gekla het. “Hy was daarvan bewus. Hy het nooit ontken wat hy gedoen het nie, en daarom het hy ingestem om te gaan,” het hy gesê. 

Mtati het skuld ontken op die aanklag. Sy advokaat het aan die hof gesê hy sal getuig dat hy nie Rasivhetshele op die beweerde wyse aangeraak het nie. 

Die eenheid is bly dat Rasivhetshele ’n geleentheid gehad het om haar storie aan ’n hof te vertel, en dat die verhoor uiteindelik aan die gang is.

Die verhoor hervat op 3 November 2022. 

Soortgelyke plasings