|

AfriForum vier Wêreldvleilanddag

AfriForum het op 31 Januarie 2020 die vleiland in die Moreletapark-natuurreservaat in Pretoria skoongemaak as deel van Wêreldvleilanddag wat jaarliks op 2 Februarie gevier word. Vleilande, wat soos natuurlike damme funksioneer, is uiters belangrik en daarom gaan AfriForum vanjaar nog vleilande regoor die land identifiseer wat skoongemaak gaan word. Die burgerregteorganisasie sal ook gemeenskappe bystaan wat vleilande wil skoonmaak.

“Dit is baie belangrik om vleilande te bewaar aangesien dit tydens die reënseisoen reënwater absorbeer en dit dan weer stadig deur die jaar vrystel. As daar nie vleilande is nie, spoel dié afloopwater onmiddellik weg. Die ander ongelooflike ding van vleilande is dat dit ’n natuurlike filtreringsfunksie verrig,” sê Lambert de Klerk, bestuurder vir omgewingsake by AfriForum.

Ná die afgelope reën het baie vullis in die vleiland ingespoel en daarom is dit noodsaaklik om die vleiland gereeld skoon te maak.

“Die mens is verantwoordelik om ons vleilande te bewaar en sodoende te verseker dat ons noodsaaklike ekostelsels optimaal funksioneer. Meer as 50% van Suid-Afrika se vleilande is reeds vernietig of toon agteruitgang,” sluit De Klerk af.

Soortgelyke plasings