|

AfriForum-voorsitter in Parys lei inspeksie van rioollekkasies saam met DWS

Die voorsitter van die AfriForum-tak in Parys het op 24 Mei ’n gemeenskapsgroep begelei om saam met die Departement van Water en Sanitasie (DWS) die rioollekkasies in die Vaalrivier te inspekteer. Die groep het lede van AfriForum, Save Ngwathe, Vrystaat Landbou en Kanana Forum ingesluit. Vier lede van die DWS het ondersoek ingestel nadat ’n klagte ontvang is oor rou riool wat in die Vaalrivier invloei.

Die klag is spesifiek gerig op die gedeelte by Sandgat waar die hooflyn gelê is net voordat dit by die rioolwerke ingaan. Die laaste mangat, wat 10 m van die Vaalrivier is, oorstroom al vir dae lank en die rou riool stroom direk in die rivier in.

Die pomp wat veronderstel is om riool na die aanleg te vervoer, is te klein en daar is net een pomp wat werk in plaas van drie. Die persoon in beheer het bevestig dit is inderdaad die probleem en dat hulle beurtkrag as die hoofoorsaak van die oorloop van die mangat blameer. Die DWS is wel bewus van hierdie probleem want hulle word gereeld daarvan ingelig.

Tumahole is volgende besoek. Die eerste pomp was droog maar die tweede pomp was buite werking en die riool het uitgestroom. Die wag het bevestig dat die pomp uitgebrand het en dus nie werk nie. Die observasie was dat die probleem al ’n geruime tyd voortduur. Die verteenwoordiger van Kanana Forum het bevestig dat die probleem reeds vir meer as drie jaar bestaan. Op lugfoto’s is dit ook duidelik sigbaar dat die water al vir baie lank só vloei en dan later in die Oudewerfspruit beland wat gevolglik weer in die Vaalrivier invloei – net bokant die waterwerke waar die dorp se drinkwater onttrek word. Die derde pomp was ook droog en daar is geen sigbare riool nie.

Daarna is besoek afgelê by die R59 net buite die dorp waar daar ook riool uit ’n mangat vloei. Hierdie riool vloei ook direk in die Vaalrivier in net bo die punt waar die dorp se water onttrek word.

Daar was geen verteenwoordigers van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit by die inspeksie nie en dit wil voorkom asof daar tans niemand by dié munisipaliteit is met wie die kwessie bespreek kan word nie. Die gemeenskap is ontstoke oor die Ngwathe-munisipaliteit se traagheid om die probleem op te los.

Die DWS het bevestig dat hulle ’n verslag gaan opstel en die lede van die inspeksiegroep van hul bevindings in kennis sal stel. Intussen gaan al die gemeenskapsorganisasies in Parys die druk op die munisipaliteit verskerp.

“Dit is aan die DWS uitgewys dat daar onder geen omstandighede riool in die rivier mag beland nie. Ons het bevind dat die pompe se kapasiteit nie voldoende is nie en daarom funksioneer dit nie reg nie,” sê Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak.

“Ek hoop van harte dat die DWS en alle betrokkenes die erns van hierdie haglike situasie besef en dadelik sal werk maak daarvan. Dit is verblydend dat al die gemeenskapsorganisasies nou hande vat en saamstaan teen die verval. Dit is waar die oplossing gaan lê,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Indien jy by die AfriForum-tak in Parys wil betrokke raak, kontak vir Burger by 082 653 4281.

Soortgelyke plasings