|

Hartbeespoort-tak se brandspan red huis in landgoed van vlamme

AfriForum se brandspan in Hartbeespoort het op 20 Mei om 17:20 ’n noodoproep ontvang van ’n huisbrand in die Bhubezi Village. Twee lede van die brandspan het hul onmiddellik na die toneel gehaas en die vlamme met beskikbare tuinslange begin blus. Kort daarna het AfriForum se waterkarre op die toneel aangekom.

Die span het op die brandpunte  gefokus om te voorkom dat die brand verder na die res van die woning versprei. Dit was ’n grasdakhuis met Harvey-teëls, wat brandbestryding uiters uitdagend gemaak het.

Hartbeespoort Emergency Medical Service (HEMS) en die Madibeng-brandweer is ook na die toneel ontbied. Die uitstekende samewerking tussen die partye het gelei tot die vinnige en suksesvolle blus van die brand. AfriForum bedank al dié betrokke partye.

“Hierdie sukses bewys weereens die belang van gemeenskapsbetrokkenheid en die rol wat AfriForum speel in die beskerming van ons gemeenskappe. Dié tak sal voortgaan om ons gemeenskap te beskerm,” sê Dennis Webster, voorsitter van die Hartbeespoort-tak.

Om hierdie inisiatief te ondersteun, kontak Dennis Webster by 082 435 5636.

Soortgelyke plasings