|

AfriForum waarsku Lesufi en gryp in om vullisverwyderingskrisis in Tshwane te beredder

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n vyfpuntplan aangekondig om die krisis in die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit, wat vullis al vir byna twee maande laat ophoop, op te los. Bykomend tot hierdie aksieplan het AfriForum ook ’n brief aan Panyaza Lesufi, die premier van Gauteng, gerig waarin die organisasie Lesufi waarsku om nie die Tshwane-metro om politieke redes onder administrasie te plaas nie. AfriForum het ook in hierdie brief beklemtoon dat die organisasie gereed is om enige nodige stappe te doen om te verseker dat sy lede en die publiek se regte beskerm word in hierdie verband.

Hierdie situasie het ontstaan as gevolg van onwettige stakings wat sedert einde Julie die vullisverwyderingsdienste in die Tshwane-metro ontwrig. AfriForum se gemeenskapstrukture het reeds in Augustus die Tshwane-metro gehelp met die verwydering van vullis wat ophoop. Die ANC-provinsiale regering, onder leiding van Lesufi, het egter hierdie week gedreig om Pretoria onder administrasie te plaas as gevolg van hierdie krisis.

AfriForum se vyfpuntplan behels die volgende:

  1. AfriForum se buurtwagte is slaggereed om die Tshwane-metro tydens vullisverwydering te help.
  2. AfriForum se strukture sal met behulp van die privaat sektor self sorg vir vullisverwydering.
  3. AfriForum se regspan is tans besig met die voorbereiding van die nodige stappe om die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te verplig om vullisverwyderingsdienste teen ontwrigting te beskerm.
  4. AfriForum het ’n brief aan Lesufi gerig waarin die organisasie die premier waarsku om nie weens politiekery te dreig om die Tshwane-metro onder administrasie te plaas nie.
  5. AfriForum vergader op Donderdag 7 September met amptenare van die Tshwane-metro om praktiese samewerking te bespreek om hierdie krisis op te los.

“Dis duidelik dat die ANC- en EFF-koalisie, in samewerking met vakbonde, weer doelbewus probeer om toestande te skep sodat die Tshwane-munisipaliteit onder administrasie geplaas kan word. AfriForum sal verseker dat munisipaliteite nie onder administrasie geplaas word vir siniese politieke redes nie,” sê Morné Mostert, bestuurder vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

“Hierdie ontwrigtings is ’n duidelike bewys van die noodsaaklikheid van ’n alternatiewe benadering tot vullisverwydering. AfriForum se gemeenskapsgebaseerde oplossings en praktiese afwenteling van mag is daardie beproefde alternatief. Terwyl Lesufi politieke speletjies speel, sal AfriForum met enige politieke party saamwerk wat ernstig is om gemeenskappe te bemagtig om dienslewering in hul eie hande te neem,” sluit Mostert af.

Soortgelyke plasings