|

AfriSake waarsku EFF: “Ons sal julle van privaatgrond verwyder”

Terwyl Julius Malema, leier van die EFF, se dreigemente om onbenutte grond op 6 April (voorheen Van Riebeeckdag) landwyd te beset opslae maak, het AfriSake dié party vandag gewaarsku dat enige optrede buite die reg beveg sal word.

Stefan Pieterse, woordvoerder van AfriSake, het gesê die organisasie het verlede jaar daarin geslaag om onder andere deur middel van regstappe honderde EFF-ondersteuners, wat grond onwettig wou beset, in Noordwes en Gauteng te laat verwyder.

“Die EFF maak beloftes aan armes wat nie deur die Grondwet gesteun word nie. Ons gun almal die reg op eiendom, maar private eiendomsreg moet gerespekteer word.

Dit is nie die eerste keer wat Malema opruiende en omstrede uitsprake maak wat aan haatspraak grens nie. Hy dreig wit mense gereeld en het onder andere verlede jaar gesê dat hy “hul vrede wil versteur” en “dat daar nie vir ’n slagting van wit mense gevra word nie, altans nie nou al nie”.

Dít het die sakeregtewaghond genoop om strafregtelike klagtes van aanhitsing teen Malema in te dien.

Malema het verlede jaar in November in die landdroshof in Newcastle in KwaZulu-Natal verskyn op ’n klagte van oortreding van die Wet op Oproerige Byeenkomste. Tydens dié saak het Malema versoek dat die saak vir ses maande uitgestel word omdat hy ’n aansoek by die hooggeregshof wil indien om dié wet ongrondwetlik te laat verklaar.

Malema het ook einde verlede jaar in die landdroshof in Bloemfontein op ’n soortgelyke klagte verskyn nadat AfriForum hom in 2014 strafregtelik aangekla het nadat hy mense in dié jaar tydens ’n EFF-kongres in Bloemfontein aangemoedig het om grond landwyd te beset. Die saak is tot 5 Junie vanjaar uitgestel.

Pieterse het gesê AfriSake sal die hooggeregshof op 7 Maart nader om ʼn interdik te bekom om Malema te verbied om sy ondersteuners en EFF-lede aan te moedig om grond te gryp.

Intussen sal die organisasie voortgaan om, soos met die onlangse grondgrype in Modimolle, in te gryp waar nodig.

 

VAN MALEMA SE OMSTREDE UITLATINGS IN DIE VERLEDE

. “Ons (die EFF) neem nou die land oor”.

. “Zuma is nie ’n regmatige president van die Republiek van Suid-Afrika nie.  Ons is nie bang nie. Ons gaan veg met alles wat ons het. Ons sal veg met enige wapen waarop ons ons hande kan lê. Ons is nie bang om Zuma in die parlement uit te daag nie.”

. “Ons is nie bang vir Afrikaners nie. Hierdie is nie julle land nie. Julle is net besoekers hier.”

. “Die Vryheidsmanifes sê jy moet grond vat waar jy ook al wil.”

. “Ons ondersteun die mense wat ongebruikte grond beset 100% en ons is reg om sy aan sy saam met dié mense te baklei teen enige element wat hul program om die grond te beset, probeer ontwrig.”

. “Die EFF-party sal alle wit eiendom konfiskeer sodra dit aan bewind kom.”

. “Wit mense het grond gesteel en hulle moet dit teruggee.”

 

Soortgelyke plasings