|

Jou “bril” bepaal hoe jy na begrotingsrede kyk, sê Akademia-kenners

Ná afloop van Enoch Godongwana, minister van finansies, sê begrotingsrede word sy begroting uit baie oorde beskryf as ’n “verkiesingsbegroting”. Kenners wat aan ’n paneelgesprek deelgeneem het, wat deur Akademia se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe gereël is, meen dit is so, maar die “bril” waardeer ’n mens dit beskou sal bepaal of jy die begroting as positief of negatief sal sien.

Een van die groot pluspunte van die begroting is dat daar nie nog reddingsboeie aan Eskom en Transnet gegee is nie. Daar heers egter groot kommer oor hoe die R150 miljard wat uit goud en buitelandse valuta reserwes van die Reserwebank bekom gaan word, aangewend gaan word. Daar was ook groot verligting dat daar nie soos verwag weggedoen is met mediese krediete nie en dat die som geld wat vir Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) opsygesit is, nie meer is nie.

“Ek het verwag mediese krediete sal reeds in hierdie begroting afgeskaf word en dit kan as ’n positief gesien word dat dit nog nie gebeur het nie. Dit wys dalk ook dat NGV nog nie sovêr gevorder het as wat baie mense gedink het nie,” sê Pieter Janse van Rensburg, direkteur van SA Direkte en Indirekte Belasting by AJM.

Pieter Janse van Rensburg, direkteur van SA Direkte en Indirekte Belasting by AJM

Nikki Kennedy, dosent in belasting by Akademia, sê dit is positief dat BTW onveranderd bly, maar dat dit nie verbasend is dat die begroting nie vir hoër BTW voorsiening gemaak het in ’n verkiesingsjaar nie.

“Dis jammer dat die belastingkorting vir sonpanele in die slag gebly het, maar goed dat die brandstofheffing nie verhoog is nie,” sê Kennedy.

Nikki Kennedy, dosent in belasting by Akademia

Suid-Afrika se reuseskuldlas bly ’n bron van kommer. Daar word R1 miljard per dag bestee net om die rente van die land se skuld te betaal. Boonop spandeer die staat ’n groot gedeelte van sy inkomste aan salarisse, wat beteken daar is omtrent 35-40% van die staatsinkomste oor om dienste mee te lewer.

Iets anders wat die paneel as ’n probleem geïdentifiseer het, is die tempo waarteen buitelandse beleggers Suid-Afrikaanse aandele verkoop. Hulle stel voor dat valutabeheer as ’n oplossing verslap moet word om handeldryf met die buiteland te vergemaklik.

Die paneel was dit eens die minister se beoogde groeikoers vir die land se ekonomie is onrealisties en dat die staat nie die land gaan red nie. Antwoorde moet eerder by die privaat sektor of ten minste by samewerking tussen die staat en die privaat sektor gesoek word. Alida Kok, dosent in politiek by Akademia, het die middelklas uitgesonder vir die rol wat hulle speel om orde en stabiliteit in die land te handhaaf en dit terwyl hulle ’n groot las dra.

“Daar is nie meer geld nie en ’n mens moet praat oor die afwenteling van magte. Die ANC is aan die einde van sy leeftyd as regerende party wat net meer en meer mag met wetgewing probeer sentraliseer. Die ANC-regering kan egter nie vir almal sorg nie en dit laat leemtes ontstaan wat die privaat sektor vul,” sê Kok.

Alida Kok, dosent in politiek by Akademia

Soortgelyke plasings