|

AfriVriendelik entrepreneurskompetisie: Ontmoet jou toptien finaliste

AfriVriendelik, ‘n AfriForum-inisiatief wat ten doel het om Afrikaans in die sakewêreld te bevorder, het vanjaar ʼn opwindende entrepreneurskompetisie aangebied wat ten doel het om entrepreneurs, wat in Afrikaans sake doen, se onderneming ’n hupstoot en wye blootstelling te gee.

“Hierdie kompetisie is vir enige entrepreneur wat trots is op sy of haar onderneming en dit verder wil uitbou. Ons het jong én ervare entrepreneurs aangemoedig om deel te neem vir die verskeie blootstellingsgeleenthede wat die kompetisie bied,” sê Sanderien van der Walt, projekkoördineerder van AfriVriendelik.

Lede van die publiek het tussen 2 en 15 Oktober vir hul toptien gunsteling-ondernemings gestem en ʼn uitgesoekte paneel sal die wenner kies wat op 1 November 2017 aangekondig sal word.

Die toptien finaliste (in geen spesifieke volgorde) vir die eerste AfriVriendelik entrepreneurskompetisie is soos volg;

1. Magies vol Liefde

Magies vol Liefde het in Augustus 2014 ontstaan in Marita Bezuidenhout se kombuis waar sy en haar span gesonde, tuisgemaakte kos spesiaal vir babamagies maak.
Magies vol Liefde maak voorsiening vir babas en kleuters tussen die ouderdom van ses en 18 maande en hulle maaltye bevat geen preserveermiddels nie.

“Ek weet hoe ons as ma’s uitgedaag word om werk en ons gesinslewens te balanseer. Ek het ’n passie vir gesonde kos en weet dat baie ma’s nie tyd het om voor die stoof te staan en gesonde kos vir hulle babas te maak nie. Ek wil op die manier help. Om so kompetisie te wen, sal ongelooflike waarde toevoeg tot ’n kleiner onderneming soos myne en my die geleentheid gee om uit te brei.”

2. Funky Ouma

Dié ma-en-dogter-duo se speserye laat enigiemand se kos soos dié van ʼn bobaas kok smaak. Johannita Eksteen en haar ma, Anneke van Rooyen, het vyf jaar gelede begin om gesonde, gespesialiseerde braai- en kooksoute te maak. “Ons het gesien mense het ʼn behoefte aan ʼn lekker gegeurde, maar tog skoon en natuurlike braai- en kooksout,” meen Eksteen.

Vandag het Funky Ouma ’n fabriek in Wellington waar hul span van 10 hard werk om daagliks sowat 1 000 soute per dag te pak en te versprei. “Ons wil graag die kompetisie wen om ons ’n hupstoot in die regte rigting te gee in terme van sosiale media. Dit sal ons ook help om nog mense aan te stel en verder uit te brei.”

3. Boeremeisie Beeldskoon

Boeremeisie Beeldskoon is ’n eg Suid-Afrikaanse velsorgreeks en die breinkind van die 11-jarige Niah Malan. Die blouoog, blonde dametjie moet nie onderskat word nie. Boeremeisie Beeldskoon is slegs ’n afdeling van Niah se groter onderneming, Boere Legende.

“Sy is ’n regte plaasmeisie en op haar gelukkigste as sy kaalvoet is. Sy is dalk net 11 jaar oud, maar het regtig passie en visie. Ek sukkel soms om by te hou,” meen Tanya Malan, Niah se ma. “Sy is uiters trots op haar taal en erfenis en wil mense inspireer. Om die kompetisie te wen, sal haar help om net groter en sterker te word en haar besigheid werklik te vestig.”

4. Tree Hog

“As ek die entrepreneurskompetisie wen, dan wen boere ook.”
Só meen Louis Loubser, ’n boer van Robertson en eienaar en stigter van Tree Hog, ’n innoverende waterbesparing en besproeiingstelsel. “Ons sit op die oomblik met talle uitdagings weens die droogte. Alle korttermyn-oplossings is nou van die tafel af, ons moet langtermyn-oplossings soek en dit is wat my produk bied.”

Sy harde werk werp nou vrugte af met internasionale belangstelling danksy sy unieke produk wat tot 62% water en elektrisiteit bespaar en onkruidbestryding vergemaklik.
“Ek neem nie net deel vir die pryse nie, maar omdat ek glo ek meer boere kan bereik en help as ek die kompetisie kan wen.”

5. Els Wildboerdery

Die jong boer, Danie Els, het ’n plan gemaak nadat hy ’n stukkie grond gehuur het met geen infrastruktuur nie en dit omskep het in ’n suksesvolle wildboerdery. “Ek het lang ure gewerk op my grond terwyl ek ook ’n bestuurder op ’n ander plaas was. Maar met harde werk en die Here se genade kon ek vanuit niks iets produktief skep.”
Els boer met gehalte, mak wild wat in uiters koue én warm omgewings kan aanpas.
“Om die kompetisie te wen, kan vir my as jong boer en entrepreneur baie deure oopmaak en my blootstel aan ’n baie groter gehoor.”

6. StratTech

StratTech is ’n dinamiese sekuriteit- en informasietegnologie-maatskappy wat unieke, wêreldklas geïntegreerde tegnologie bied wat mense se lewens, besittings en ondernemings beskerm.

“Ons het in ’n baie kort tyd baie reggekry. Ons doen deurlopende navorsing om seker maak ons maak gehalteprodukte wat ’n daadwerklike bydra lewer om mense se lewens en besittings te beskerm,” meen Elmarie Bredenhann, mede-eienaar van StratTech.

“Ons onderneming is nog baie jonk so ons hoop om die kompetisie te wen sodat ons meer mense kan blootstel aan ons produkte. Dit sal ongelooflike waarde toevoeg aan die groei van ons maatskappy.”

7. De Afrikander Handelshuis

Kreatief, hoë gehalte, kultuur en natuurlik trots Afrikaans. Dít is die vier pilare waarop De Afrikander Handelshuis (D.A.H) gebou is.

De Afrikander Handelshuis het reeds die afgelope drie jaar suksesvol ’n aanlynwinkel bedryf wat hoofsaaklik op T-hemde en bykomstighede met Afrikaanse motiewe gefokus het. Hulle het ook vanjaar die geskenkwinkel wat voorheen op die Voortrekkermonument se terrein was vervang en hul streef daarna om die grootste winkel in sy soort in Suid-Afrika te wees.

Volgens Liza-Marie Oberholzer, mede-eienaar van De Afrikander, wil dié handelshuis die entrepreneurskompetisie wen sodat hulle die Afrikaanse kultuur en taal verder op ʼn moderne wyse kan uitbou. “Ons wil deur innoverende ontwerpe en produkte mense trots maak op hul herkoms. Hulle moet voel dis lekker om Afrikaans te wees.”

8. Pawtique Hondesalon

“Ek het nog altyd ’n groot liefde vir diere gehad en ek glo dat ’n skoon, goed versorgde hond ’n gelukkige een is.” Só meen Sanet Human, diereliefhebber en eienaar van Pawtique hondesalon in Bloemfontein.

Die onderneming het binne ’n jaar nadat hul deure in Maart 2016 geopen het, reeds 1 800 kliënte gehad.  Human het ook mense in diens geneem wat weens verskeie uitdagings nie by ander instansies werk kon vind nie. “Ek glo dat ons mense moet bemagtig en ophef, daarom word my werknemers goed opgelei. Ses is reeds gekwalifiseerde hondestiliste.”

Human sê dit sal vir haar onderneming ’n groot prestasie wees om die kompetisie te wen omdat dit hulle sal vestig as ’n onderneming binne hul gemeenskap.

9. Eric Barnard Meubels

“Ons glo dat ’n goeie reputasie nie gekoop, maar verdien moet word. Sodra jy dit verdien moet jy alles in jou vermoë doen om dit te behou.”

Só meen Marius Barnard, eienaar van die meubelwinkel Eric Barnard Meubels in Pretoria. Dié familiebesigheid het sy deure in 1975 in Queenswood geopen en is op die been gebring deur Marius se ouers, Eric en Anette.

Vandag het die familie twee suksesvolle meubelwinkels, ‘n privaat wildsplaas in Thabazimbi, asook ’n wapen- en toebehorewinkel, naamlik Brother’s Arms, wat deur Marius se seuns Nicki en Rudi bestuur word.

Barnard sê hy glo hul onderneming moet die entrepreneurskompetisie wen omdat hul integriteit bo winsgewendheid stel.

10. Philtrans

Image result for vuurmaak hout

Philtrans is 28 jaar terug deur Casper Minnaar op die been gebring. Benewens hul vervoer-en dromdiens, verkoop Philtrans ook gehalte vuurmaak hout en kompos.

Philtrans het tans sowat 950 dromme regoor Pretoria. Hul skryf hul sukses toe aan gelukkige en lojale kliënte en is van mening dat hul onderneming moet wen omdat hulle deursettingsvermoë het.

 

Soortgelyke plasings