|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

Beàtha Groenewald dien weer op die kampusstudenteraad van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus (Puk) nadat sy onregmatig van die studenteraad verwyder is. AfriForum Jeug, wat vir Groenewald verteenwoordig, het verlede week ’n prokureursbrief aan die Puk gestuur en is van mening dat hulle regsoptrede tot die Puk se besluit gelei het om weer vir Groenewald aan te stel.

AfriForum moedig ook elke lid van die publiek wat ’n belang by onderwys het aan om die openbare raadplegingsessies oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (ook bekend as die BELA-wet) by te woon en hul mondelinge insette oor die vernietigende wet te lewer. Dié byeenkomste vind regoor die land plaas en word hierdie naweek al in Limpopo gehou. Besoek AfriForum se webblad om te sien wanneer die openbare raadplegingsessies plaasvind.

AfriForum Sakenetwerk se Tinteltong Toekennings is op Internasionale Moedertaaldag aangebied waartydens Bartho en Suné Eksteen met ’n ere-Tinteltong Toekenning bekroon is vir hulle bydrae om Afrikaans as handelstaal te bevorder.

AfriForum is verder van mening dat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) die korrupsiebewerings wat André de Ruyter vandeesweek gemaak het, in ag moet neem wanneer tariefverhogings gedoen word.

Die organisasie doen ook ’n beroep op gemeenskappe om buurt- en plaaswagte uit te brei en te verbeter nadat Bheki Cele, minister van Polisie, erken het die polisie kan nie alleen misdaad bekamp nie en dat gemeenskappe moet help om misdaad te bekamp.

Lede van AfriForum se Brits-buurtwag en verskeie sekuriteitsmaatskappye soos Monitor Net, Protego, Secra, PPS en Transnet het nadat hulle inligting van ’n AfriForum-lid ontvang het, kabeldiewe vasgetrek met die gesteelde kabels in hul besit.

AfriForum se Stella-sektor wat onder die Vryburg-buurtwag val, het ’n sonpomp en sonpanele teruggevind nadat dit op ’n boer se plaas gesteel is. Een verdagte is aangekeer en twee ander het op die vlug geslaan nadat die voertuig waarin hulle gery het teen ’n ander voertuig gebots het.

AfriForum se Eloff- en Delmas Valke-buurtwag het die gemeenskap in samewerking met Sundra Rietkol Bulldogs beskerm tydens gewelddadige onluste in Delmas.

Die Laer-Suidkus-tak in Margate en die omliggende dorpe het veiligheidstoerusting soos koeëlvastebaadjies, kolligte, noodhulpsakke, voertuigmagnete, kegels en pepergas aangeskaf om buurtwagte toe te rus om die gemeenskap meer doeltreffend te beveilig.

Lede van AfriForum se Kranspoort- en Middelburg-tak het instandhoudingswerk by die Loskopdam-monument gedoen. Die monument is skoongemaak, die gras is gesny en die palissades om die monument is oorgeverf. ’n Bakkievrag vol vullis en gras is tydens die skoonmaakprojek verwyder.

’n Aanlyn platform, Pretoria se slaggate, is vandeesweek van stapel gestuur sodat inwoners van Pretoria die slaggate in hul woonbuurte en veral op hoofpaaie wat swaar verkeer dra, kan aanmeld. Die data sal dan verwerk en aan die Tshwane-metro deurgegee word vir herstelwerk.

Soortgelyke plasings