|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek op verskeie gebiede toegetree en die takke het ook skoonmaak- en ander projekte aangepak om hul onderskeie dorpe te verbeter.

Die organisasie het die Departement van Water en Sanitasie (DWS), asook die waterrade al vir jare gewaarsku oor die watergehalte en was nie verbaas oor die cholera-uitbreking in Gauteng en die Vrystaat nie. AfriForum is al vir etlike jare besig met verskeie hofaansoeke en strategieë oor die kwaliteit van water in die land en die gebrekkige rioolstelsels wat daartoe bydra. Watermonsters wat in die week in Parys geneem is dui ook daarop dat daar wel cholera in die Vaalrivier is en dat die ander monsters wat in die dorp geneem is, ook met E. coli besmet is.

Die Parys-tak het ook saam met die DWS en lede van Save Ngwathe, Vrystaat Landbou en Kanana Forum inspeksie gedoen nadat ’n klagte ontvang is oor rou riool wat in die Vaalrivier invloei.

Uitspraak is voorbehou in AfriForum en die Mafube Besigheidsforum se saak teen die premier van die Vrystaat en ander respondente nadat dié organisasies die hof genader het omdat hulle van mening is dat die premier ’n vorige hofbevel minag.

AfriForum het ook die organisasie se plaasmoordverslag vir die eerste kwartaal van 2023 bekendgestel. Hierdie verslag toon dat minstens 77 plaasaanvalle, waartydens nege moorde gepleeg is, plaasgevind het.

Die organisasie se Bloemfontein-tak het ’n brief aan die Vrystaatse Dobbel, Drank en Toerisme Owerheid en die Mangaung Metro oorhandig wat ’n aansoek om ’n sjebien te bedryf teenstaan. Geen openbare deelname of wetlike prosesse is gevolg nie en die tak is ook van mening dat hierdie aansoek nie goedgekeur kan word nie omdat die sjebien binne 500 m van Laerskool Onze Rust is.

In Hartbeespoort het die tak se brandspan op ’n noodroep gereageer en die goeie samewerking tussen die tak, Hartbeespoort Emergency Medical Service (HEMS) en die Madibeng-brandweer het gehelp om huisbrand spoedig te blus.

Die Upington-tak het vier sonkragstraatligte op privaat eiendom in Olyvenhouts Drift geïnstalleer wat met ’n dag/nag-skakelaar werk. Dit volg nadat die foutiewe straatligte etlike kere by die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit aangemeld is, maar steeds nie in die aande brand nie.

Centurion se buurtspan het saam met gemeenskapslede in Eldoraigne skoongemaak en 25 000 m2 gras is gesny, ongeveer 70 sakke rommel is opgetel en ’n paar ton se bourommel is ook verwyder.

Die Kimberley-tak het saam met die Rapportryerbeweging, Voortrekkers, Landsdiens en lede van die publiek by die Burger-monument by die Magersfontein-slagveld skoongemaak en kranse gelê.

Die AfriForum-tak in Vryheid het vyf gevorderde SNIPR-kameras op strategiese plekke opgerig om met misdaadbekamping te help.

Soortgelyke plasings