|

Agtien maande tronkstraf vir wildstropers in Noordwes

Ná wat gevoel het soos eindelose ondersoek en vertragings in die hof het die Swartruggens-landdroshof uiteindelik twee mans skuldig bevind aan stropery en hulle tot 18 maande tronkstraf gevonnis. Manang Bopalale en Kgomotso Molefe het skuld beken op dié aanklag en is op 10 Januarie gevonnis. Agt maande van hul vonnis is vir vyf jaar opgeskort. Dié stropers het ’n gesogte njala-bul ter waarde van nagenoeg R12 000 gestroop.

Dit het byna twee jaar geneem waarin die saak 10 keer uitgestel is en selfs ’n keer van die rolgeskrap is, maar ná AfriForum se privaatvervolgingseenheid ingegryp het is die saak uiteindelik tot afgehandel.

Molefe is in Februarie 2022 skuldig bevind aan kabeldiefstal en gevonnis, maar hy is vroeg vrygelaat as deel van president Cyril Ramaphosa se spesiale kwytskeldingproses in Augustus verlede jaar. Sedert sy vrylating is hy in nog twee sake van kabeldiefstal en aanranding aangekla.

Die polisie het die twee beskuldigdes op 26 September 2021 in hegtenis geneem terwyl hulle in besit was van ’n afgeslagte njala-karkas. Die privaatvervolgingseenheid het die klaer Charl Visser verteenwoordig en DNS-ontleding laat doen wat sy eienaarskap van die karkas bevestig het. Ten spyte van hierdie oortuigende getuienis, is die saak voortdurend uitgestel.

In Julie verlede jaar is die saak van die rol geskrap omdat die ondersoek nie afgehandel is nie en die landdros geweier het om die saak verder uit te stel. Maar deur die volharding van die eenheid is die saak uiteindelik afgehandel.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê hoewel die skuldigbevinding verwelkom word, kan die eer nie die staat toekom vir hierdie saak nie. “Sonder die ingryping van die privaatvervolgingseenheid sou die beskuldigdes steeds vry wees om voort te gaan met hul kriminele uitbuiting. Om herhaalde oortreders te hanteer, vereis ywer en toewyding van polisieondersoekers en staatsaanklaers. Dit ontbreek ongelukkig,” sê Nel.

Eddie Wesetpfahl, ’n plaasgemeenskapsverteenwoordiger, het die eenheid bedank vir sy ondersteuning en gesê hulle is deur die owerhede in die steek gelaat. “Die polisie het ten spyte van baie beloftes niks aan die saak gedoen nie. AfriForum het dit nie net daar gelaat nie. Met hulle hulp het die saak aan die gang gekom, en hulle het nooit moed opgegee totdat die beskuldigdes skuldig bevind is in die nyala-saak nie. Molefe was ’n groot kopseer vir die gemeenskap. Die gemeenskap is baie dankbaar vir AfriForum se ondersteuning,” sê Wesetpfahl.

Soortgelyke plasings