|

AfriForum se Thabazimbi-tak verklaar oorlog teen slaggate 

AfriForum se Thabazimbi-tak het die afgelope naweek, as deel van AfriForum se #OnsDorp-veldtog, die slaggatprobleem op die Spitskop-pad in Thabazimbi getakel en behoorlik oorlog teen slaggate in en om dié dorp verklaar. Herstelwerk aan die Spitskop-pad is in samewerking met sektor 7 van die plaaslike Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), aangepak. Die tak het nie net ’n ton teer vir die herstelwerk geskenk nie, maar ook self ingespring om slaggate hier te herstel.

’n Verdere 2,5 ton teer is ook deur die gemeenskap geskenk vir nog opknappingswerk aan dié en ander paaie in Thabazimbi. Herstelwerk aan die kruising van Hamerkop- en Steenbokstraat sal aanstaande maand aangepak word.

Volgens Cee-J van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Soutpansberg-streek, is slaggate ’n reuseprobleem in Suid-Afrika en iets wat veral kleiner dorpe ernstig benadeel. Hoewel die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) nie betroubare syfers van die aantal slaggate in Suid-Afrikaanse paaie het nie, is daar al in 2022 beweer dat daar tot 25 miljoen slaggate in die land se paaie is. Intussen vererger die probleem by die dag. “Swak instandhouding van paaie ontmoedig mense dikwels om sekere paaie te ry of dorpe te besoek, en hoewel die regering vroeër vanjaar aangekondig het dat daar “oorlog” teen die slaggatkrisis verklaar is, kom daar nog nie veel van dié beloftes nie. Daarom neem gemeenskappe – soos Thabazimbi – nou die stryd in eie hande en wys dat gemeenskappe self sal inspring om die verdere verval van paaie te help keer,” verduidelik Van der Walt.

Van der Walt benadruk dat die samewerking tussen verskillende plaaslike organisasies die krag van gemeenskappe selfs verder beklemtoon. “Deur hande te vat met plaaslike buurtwagte, maak AfriForum die gemeenskap ’n veiliger én vriendeliker gemeenskap wat kan trots wees op hul dorp.”

Soortgelyke plasings