Alberton span saam teen kragreus

 

 Die AfriForum-tak in Alberton het vandag met verskeie instansies – waaronder die DA, die Vryheidsfront Plus, Alberton se Erfenisvereniging en ander geaffekteerde ondernemings – hande gevat om die Alberton Eerste Alliansie te vorm. Dié Alliansie het ten doel om Eskom se voorgestelde besluit om hoëspanningskraglyne wat in Alberton se middestad opgerig gaan word, teen te staan.
Die oprig van die kraglyne sal ’n direkte invloed op sowat 52 800 inwoners en bykans 1 000 leerlinge van Alberton Primary School hê.
Die Alliansie het ook ’n 6-punt-aksieplan saamgestel waarin die volgende planne uiteengesit word:

  • Teken appèl aan by die departement van omgewingsake teen die raad se goedgekeurde besluit om die hoëspanningskraglyne op te rig;
  • Tree in dringende gesprekvoering met Eskom se projekbestuurspan en dring aan op alternatiewe roetes;
  • Bring ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA, wet no. 2 van 2000) om die munisipaliteit te verplig om alle tersaaklike inligting aangaande die finale oprig van die hoëspanningskraglyne te openbaar;
  • Begin ʼn aanlynpetisie;
  • Mobiliseer die gemeenskap;
  • Nader die hooggeregshof oor prosedurele ongerymdhede.

“Die raad het reeds voorgeneem om Eskom se planne goed te keur sonder enige openbaredeelnameproses en konsultasie met belanghebbendes. Die Alliansie is om verskeie redes teen die oprigting van die kraglyne gekant, onder meer omdat dié 400 000-voltkraglyne gevare vir alle inwoners en huiseienaars inhou; omdat die waarde van eiendomme sal verlaag; omdat huiseienaars gedwing sal word om hul huise te verkoop om ruimte vir dié oprigting te maak; en omdat die omgewing ook hierdeur beïnvloed sal word,” sê Marie Naude, AfriForum se assistentkoördineerder vir Gauteng.

Naude sê voorts dat ses huiseienaars reeds hul huise moes verkoop as gevolg van dié projek wat sedert 2008 beplan word.

“Eskom het ook geensins kontak met Alberton se Erfenisvereniging gemaak in verband met erfeniseiendom wat deur die oprigting van die hoëspanningskraglyne beïnvloed gaan word nie,” sê Beverley-Ann Small, voorsitter van Alberton se Erfenisvereniging.

Bruna Heipel, DA-raadslid vir wyk 106 in Alberton, meen dat verskeie aantal mosies, briewe, versoeke en petisies wat namens die publiek aan die Ekurhuleni Plaaslike Munisipaliteit oorhandig is, bloot op dowe ore geval het.

Soortgelyke plasings