|

Atlete samel groot bedrag in ter ondersteuning van plaasmoordslagoffers

Twee atlete, wat ’n hart vir die land se boere het, het die afgelope naweek meer as R55 000 vir slagoffers van plaasmoorde ingesamel.

Jason Coetzee en Eckhart Breet het Saterdag aan die Sanlam Kaapstad Marathon (42,2 km) deelgeneem en weldoeners versoek om hulle te borg sodat hulle ’n bydrae tot AfriForum se traumaeenheid se slagofferondersteuningsfonds kon maak.

Volgens Coetzee is hy bevoorreg dat hy uit die aard van sy werk direk by boeredery betrokke kan wees. “My familie en vriende is ook in boerdery of bedien die boerderygemeenskap.

“Plaasaanvalle en mense se veiligheid op plase is ’n kwessie wat my baie na aan die hart lê. Ons boere en plaaswerkers sit daagliks vir die land kos op die tafel. Dit is vir my skokkend om te sien tot watter uiterstes hulle moet gaan om hulself en hul eiendom te beskerm.

“Deur aan die marathon deel te neem, was my beskeie bydra om te probeer help. Hopelik sal dit ’n verskil aan iemand se lewe maak.”

Eckhart Breet sê hy het gehardloop om bewusmaking vir plaasmoorde en -aanvalle te skep.

Jason Coetzee en Eckhart Breet ná afloop van die Sanlam Kaapstad Marathon.

“Mense wat op plase bly, soos my famlie en vriende, loop ’n groot gevaar en risiko om geteiken te word. Ek glo ons moet ‘n standpunt teen die moorde en aanvalle inneem en saam daarteen veg. Meer verdedig as veg , want Jesus het reeds die oorwinning behaal. Ons moet net Sy wapenrusting aantrek waarop Sy lig skyn sodat mense se harte daardeur aangeraak sal word.

“Ek hardloop sodat mense sien al doen jy ’n klein bietjie kan dit ’n groot verskil maak. Ons moet help om ons boere te beskerm.”

AfriForum se traumaeenheid het Coetzee en Breet geloof vir hul inisiatief en bedank vir die finansiële ondersteuning. Die slagofferondersteuningsfonds word gebruik om slagoffers op verskeie maniere ná ’n traumatiese aanval by te staan. Tonele word skoongemaak, linne, kruideniers, medikasie of ander noodsaaklike items word aangekoop indien nodig, terwyl slagoffers ook berading kry en tydens die indien van klagtes en hofsake ondersteun word. Vir meer inligting besoek https://afriforum.co.za/wat-doen-ons-2/traumaslagoffer-ondersteuningseenheid/

Soortgelyke plasings