Benoni-gemeenskap stuit misdadigers


Lede van AfriForum se Benoni-buurtwag het op 22 Februarie 2018 in samewerking met die SAPD, die gemeenskappolisiëringsforum en PHP Sekuriteit twee vermeende verdagtes in besit van ’n gesteelde mangatdeksel aangekeer, en in ’n afsonderlike geval twee verdagtes help plattrek wat reeds sedert 2014 deur die polisie vir diefstal gesoek word.
Gemeenskapslede het twee verdagtes voorgekeer wat vermoedelik ’n gesteelde mangatdeksel in hul besit gehad het en PHP Sekuriteit ontbied. AfriForum-buurtwaglede het bystand gebeid totdat die SAPD opgedaag en die twee verdagtes gearresteer het.
In die tweede geval het ’n AfriForum-buurtwaglid ’n verdagte voertuig met ’n registrasienommer opgemerk wat reeds by vorige misdadige aangeleenthede betrokke was. Die buurtwaglid het die voertuig vir ongeveer tien minute lank agtervolg en intussen op die Benoni Crime Group-radionetwerk om bystand geroep. Lede van die GPF, PHP Sekuriteit en die SAPD is ontbied, waarna die twee verdagtes gearresteer is.

“Proaktiewe optrede lei tot suksesvolle arrestasies en die Afriforum-buurtwag sal voortdurend hulp aan die SAPD bied en saam met ander veiligheidsinstansies werk om veiligheid te bevorder,” sê Archie Mouyis, AfriForum se Benoni-buurtwagvoorsitter.

Raak vandag nog by jou naaste buurtwag betrokke: SMS “Benoni” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings