| |

AfriForum rig skrywe aan munisipaliteit oor kragkrisis in Ventersdorp

AfriForum het onlangs ’n skrywe aan die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit gestuur aangesien Ventersdorp al vir ’n geruime tyd gereeld kragonderbrekings ervaar – veral in die nywerheidsgebied. Talle ondernemings trek noustrop of het al tou opgegooi weens die gedurige kragonderbrekings.

Die skrywe aan die munisipaliteit het egter onbeantwoord gebly en daarom was AfriForum genoop om ’n dispuut by Nersa te verklaar. Nersa het onderneem om die saak te ondersoek en sal binne 120 dae uitslag gee.

“Dit is werklik skreiend dat die munisipaliteit so min omgee vir ’n gemeenskap wat in hulle gebied val en wat groot probleme ervaar. Indien daar nie baie dringend aan hierdie saak aandag gegee word nie, sal sake-eienaars Ventersdorp verlaat en sal dit ’n spookdorp word waarvan die munisipaliteit in elk geval geen inkomste sal ontvang nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Raak vandag nog by AfriForum se Ventersdorp-tak betrokke en help so om die verval te stop: SMS “Ventersdorp” na 45344 (R1) om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings