|

Groter Moot-buurtspan maak verskil in gemeenskap 

AfriForum se Groter Moot-buurtspan het gedurende Maart die spreekwoordelike bul by die horings gepak en ’n groot aantal werk gedoen om die Moot te verbeter.

Dié span het weggespring en in totaal ’n oppervlak van 18,8 hektaar se gras gesny en ongeveer 483 ure met bossiekappers gewerskaf. Die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit het die 96 geelsakke rommel weggery wat die span bymekaargemaak en op verskeie punte uitgesit het. Die spanlede het self ook vyf vragte vullis met ’n bakkie en sleepwa weggery.

Verder het hulle 27 verkeersligte, agt straathoeke, twee verkeerskruisings en twee verkeerseilande oorgeverf. Die span het egter nie daar gestop nie, hulle het ook ’n bankie in ’n park gebou sodat die publiek die opgeknapte area kan geniet.

“AfriForum sal aanhou om in ons gemeenskappe te woeker veral wanneer die regering of munisipaliteit misluk. Op dié manier skep ons in ons gemeenskappe hoop deur projekte aan te pak wat ’n daadwerklike verskil maak,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Soortgelyke plasings