|

AfriForum se Witbank-tak vier boomplantmaand

Die AfriForum-tak in Witbank het onlangs as deel van die burgerregteorganisasie se jaarlikse boomplantmaandprojek 137 bome aan verskeie skole en instansies in Witbank geskenk en gehelp plant.

Dié tak het besoek by die volgende skole en instansies afgelê: Hoërskool Generaal Hertzog, Laerskool Panorama, HTS Witbank, Witbank DBV, WH de Klerk Skool, Laerskool Kragbron, St. Thomas Aquinas Skool, Cambridge Witbank Christian Academy, Laerskool Klipfontein, Laerskool Tasbet, Oak Feathers-tehuis, New Life Children’s Home en Audeamus Skool.

“Om ’n boom te plant is ’n geloofsdaad vir die toekoms. Wanneer jy ’n boom plant weet jy nie of jy self die skaduwee van die boom gaan geniet nie, maar jy het vertroue dat jou kinders en kleinkinders dit wel sal geniet,” sê Alf Friess, voorsitter van AfriForum se Witbank-tak.

“Vanjaar wil ons gemeenskappe reg oor die land aanmoedig om ook inheemse bome by hul huise, skole, kerke, gemeenskapsentrums, tehuise en parke te plant tydens boomplantmaand,” sê Bronwen Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Soortgelyke plasings