|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum en die organisasie se takke landwyd het weer eens moue opgerol om teen staatsverval en korrupsie te veg.

Drie gewese beamptes van die Tshwane Metropolisie het hierdie week in die hof verskyn en is ook afgedank vir beweerde korrupsie en uitbuiting. AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag op namens Grandi Theunissen, Tshwane-burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, en Uvaldi Theologo, die klaer in die saak.

Die burgerregteorganisasie het vandeesweek opnuut weer geëis dat Bheki Cele, minister van Polisie, afgedank moet word. ’n Brief is aan pres. Cyril Ramaphosa gerig waarin gedetailleerde terugvoer versoek word oor Cele se professionele prestasie, soos ingevolge sy presidensiële prestasie-ooreenkoms.

Alhoewel verdere wysigings aan die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela-wetsontwerp) gemaak is, stel dit AfriForum geensins gerus nie en gaan die organisasie voort om voor te berei vir regsaksie.

Daar is opnuut standpunt teen Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) ingeneem met ’n video wat toon hoe privaat klinieke bekostigbare mediese dienste aan arm gemeenskappe lewer. Volgens AfriForum skets die voorstanders van NGV ’n verwronge beeld van privaat gesondheidsorg.

AfriForum het die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) versoek om te bevestig of dié reguleerder munisipaliteite steeds verplig om kostestudies in te dien wanneer hulle aansoek doen vir tariefverhogings. Dit volg ná ’n hofuitspraak in 2022 bevind het dat die gebruik van prysbande en riglyne onwettig is en dat munisipaliteite kostestudies moet indien alvorens hulle tariefverhogings mag instel.

Kommentaar oor die konsepregulasies oor die voorgestelde sektorale numeriese rasteikens is by die Departement van Indiensneming en Arbeid ingedien. Hierin het AfriForum voorgestel dat ’n sperdatum vasgemaak word vir die beëindiging van rassediskriminerende wetgewing, wat in ooreenstemming is met die “tydelike aard” van regstellendeaksiebeleide, soos bepaal deur die Wet op Gelyke Indiensneming 55 van 1998.

Altesaam 48 universiteitstudente van Akademia en die Universiteit van Pretoria het aan vanjaar se eerste Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir universiteitstudente deelgeneem. Een span van beide universiteite het deurgedring na die nasionale finaal later vanjaar.

Die AfriForum-tak in Viljoenskroon het 63 swartsakke vol rommel en tuinvullis verwyder tydens ’n skoonmaakprojek. Die tak in Standerton het die Voetspore-monument skoongemaak deur die gras te sny en rommel op te tel. In Bethal is gras op verskeie plekke in die dorp gesny.

AfriForum se takke in Klerksdorp en Stilfontein het kommentaar op die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan ingedien en onder meer aanbevelings gemaak oor waarvoor die munisipaliteit moet begroot.

In Vanderbijlpark het die AfriForum-tak en inwoners van Flora Gardens vanjaar reeds 1 268 sakke teer gebruik om slaggate in dié woonbuurt op te vul. Dié tak het ook al meer as 20 hektaar se gras gesny en 382 vullissakke gevul en weggery.

AfriForum se buurtwagte landwyd het op 19 April aan die organisasie se nasionale patrollie deelgeneem. Tydens die patrollies is daar saam met veiligheidsmaatskappye, die polisie en ander wetstoepassers gewerk om verdagtes aan te keer, onwettige ondernemings te sluit en sigbaarheid te verhoog. Die buurtwaglede het ook op skietvoorvalle gereageer en areas gefynkam vir verdagtes. Verder het die buurtwaglede ook ondersteuning op ongelukstonele gebied.

AfriForum se buurtwag in Piet Retief het ’n nuwe brandbestrydingstoestel ontvang wat hulle in staat stel om klein brande vinnig te blus.

Die burgerregtewaghond spog ook met ’n nuwe buurtwag in Colchester wat deel vorm van die organisasie se strukture in Gqeberha. ’n Plaas- en buurtwag is ook in die Midlands, KwaZulu-Natal, op die been gebring.

In Potchefstroom het die buurtwag ’n geslaagde skietdag gehou wat skuts se vuurwapenvaardighede behoorlik getoets het.

Soortgelyke plasings