|

Beurtkrag knak kommunikasie by O-Kaap-polisiestasie, Walker Drive-buurtwag gryp in met skenking

AfriForum se Walker Drive-buurtwag het ’n broodnodige skenking aan die Kabegapark-polisiestasie gemaak om dienslewering, wat weens die toepassing van beurtkrag hier gekniehalter word, te takel. ’n Selfoon is verlede week (14 Oktober) aan dié plaaslike stasie van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) geskenk, nadat dit duidelik geword het dat beurtkrag ’n ernstige invloed op die werking van die stasie se beskikbare kommunikasiekanale het.

Volgens Hannes Oosthuizen, buurtwagleier van die Walker Drive-buurtwag, gaan die Kabegapark-stasie gebuk onder toenemende druk aangesien beurtkrag ook die werking van die stasie se landlyne belemmer. “Sodra beurtkrag ingestel word, gaan die stasie se telefone ook van lyn af. Die publiek kan dus in daardie tydgleuf geen insidente telefonies rapporteer nie en plaas dit die gemeenskap se veiligheid in ernstige gedrang,” benadruk Oosthuizen. 

Met dié skenking, meen Oosthuizen, sal die stasie én die publiek toegang hê tot ’n werkende kommunikasiekanaal om die rapportering van insidente te verseker. “Die stasie is intussen ook besig om ondersoek in te stel na die oorsaak van die bestaande kommunikasieprobleem, maar die Walker Drive-buurtwag se skenking sal in die tussentyd dienslewering by dié stasie verbeter en vergemaklik,” sê Oosthuizen.

“Weens die hoë misdaadvlakke in Suid-Afrika is dit noodsaaklik om te verseker dat ons die nodige stappe doen om die gemeenskap se veiligheid te verseker. AfriForum versoek alle gemeenskappe om by hul plaaslike buurtwagstrukture betrokke te raak om sodoende, in samewerking met ander veiligheidsdienste in hul omgewing, na hul eie veiligheid te begin omsien. Sluit dus vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag aan,” sê Wikus van der Walt, AfriForum-distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.

Soortgelyke plasings