|

AfriForum-reeks bied regsekerheid aan boere

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n reeks, Die boer en die reg, vervaardig met die doel om meer regsekerheid vir boere te skep rakende verskeie uitdagings wat landelike bewoners in Suid-Afrika in die gesig staar.

Dit raak daagliks ’n groter uitdaging om in Suid-Afrika te boer en in landelike omgewings te woon.

Boere moet hulle ongelukkig oor baie meer bekommer as die huidige ekonomiese klimaat, weersomstandighede en om kos vir miljoene Suid-Afrikaners te produseer. Hulle word boonop gereeld gekonfronteer met verskillende risiko’s wat hul veiligheid bedreig en waarvoor daar regshulp ingewin moet word.

In die reeks gesels regskenners en verteenwoordigers van landbouorganisasies oor onderwerpe soos grondgrype, betreding, plaasaanvalle, noodweer en selfverdediging, en gee ook duidelikheid oor wat boere te doen staan in sulke gevalle.

“Ons glo hierdie reeks sal boere en landelike bewoners meer sekerheid gee oor hoe om van die uitdagings te hanteer. Probleme soos grondgrype en plaasaanvalle is ongelukkig ’n realiteit waarmee ons moet saamleef, maar hoe beter voorbereid en ingelig boere is, hoe gouer kan sulke gevalle aangespreek word,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

Die boer en die reg is nou op AfriForumTV beskikbaar.

Soortgelyke plasings