Bloemhof se AfriForum-tak werk saam met SAPD, munisipaliteit


Die AfriForum-tak in Bloemhof het sy samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bevestig deur ’n afskrif van die samewerkingsooreenkoms wat op 16 Januarie 2017 tussen AfriForum en die SAPD in Centurion gesluit is, aan kol. Willem Bekeer, bevelvoerder van die Bloemhof-polisiestasie, te oorhandig.

“Ons is baie opgewonde oor dié ooreenkoms wat ten doel het om ’n geïntegreerde benadering te volg om veiligheid te verbeter en gemeenskapsamewerking in die bekamping van misdaad aan te moedig,” sê Alta Pretorius-Swart, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.

Die Bloemhof-tak van AfriForum het ook met die gemeenskap en die Lekwa Teemane Plaaslike Munisipaliteit hande gevat om die gevaarlike slaggate in die dorp met grond te vul.
Volgens Willem van Vuuren, die voorsitter van die AfriForum-tak in Bloemhof, het die munisipaliteit ’n werkspan en toerusting verskaf. Lede van die gemeenskap en besighede het ’n trekker en wa met ’n drywer, grond en die oplaai daarvan, asook donasies vir lone en verversings verskaf.

“Dit is verblydend om te sien dat ’n gemeenskap só kan saamwerk. Die samewerking van die plaaslike munisipaliteit is ook bemoedigend,” voeg Pretorius-Swart by.

Soortgelyke plasings