AfriForum-buurtwagte neem aan nasionale patrollie deel


Die AfriForum-buurtwagte van Vryburg, Stella en Komtiekie het die afgelope naweek aan dié burgerregte-organisasie se nasionale patrollie deelgeneem. Die patrollie is suksesvol deur sowat 58 buurtwaglede, lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en privaat sekuriteitsmaatskappye Ravens en Black Spider, uitgevoer.

“Die patrolleerders het Vryburg, Stella en die Lykso-omgewing tussen Vrydagaand 20:00 en Saterdagoggend 5:00 in skofte van twee ure elk met 31 voertuie gepatrolleer. Patrolleerders het 1 940  km in 319 manuur afgelê. Die patrolleerders het onder meer die SAPD gehelp om bakkies dop te hou wat met veediefstal verbind word, die sekuriteitsmaatskappye gehelp om alarmseine op te volg en die Leon Taljaard-wildreservaat se heining nagegaan om wilddiewe hok te slaan. Geen ernstige voorvalle van misdaad is egter aangemeld nie,” sê Alta Pretorius-Swart, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Pretorius-Swart voeg by dat die patrollie op misdaadvoorkoming en die sigbaarheid van veiligheidstrukture gemik was en baie goed in dié doel geslaag het.
Raak vandag betrokke deur “Gerus” na 45266 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings