|

Bloemhof-tak skop eie vullisverwyderingsdiens af, verwyder 20 ton vullis binne eerste week

Selfdoen het die afgelope week nuwe hoogtes in Bloemhof bereik met die plaaslike AfriForum-tak hier wat hul eie weeklikse vullisverwyderingsdiens vir inwoners en ondernemings afgeskop het en sommer met die intrapslag nagenoeg 20 ton vullis verwyder het. Dié nuwe inisiatief volg in reaksie op verskeie klagtes rakende die Lekwa-Teemane Plaaslike Munisipaliteit se swak dienslewering.

Vullisverwydering op Bloemhof was maande laas op skedule en sekere ondernemings se vullis word glad nie eens verwyder nie. Die situasie het uiteindelik onuithoudbaar geword waarna die AfriForum-tak besluit het om in te gryp en voortaan self dié diens te lewer.

AfriForum se Bloemhof-tak het vroeër vanjaar reeds begin met voorbereidings om ’n eie vullisverwyderingsdiens op die been te bring en het op 14 en 15 Augustus met plaaslike ondernemings en die gemeenskap vergader oor hul planne hiervoor. Maande se beplanning aan dié noodsaaklike gemeenskapsaksie het verlede week uiteindelik vrugte afgewerp toe die eerste vullis verwyder is. ’n Totaal van 4 ton huishoudelike afval en nagenoeg 16 ton tuinvullis is in die eerste week verwyder.

Die tak het ook verlede week ’n skoonmaakaksie in die dorp se hoofstraat afgeskop en meer as tien sakke vullis in dié straat alleen opgeruim. Die projek sal nou deurlopend aangepak word om die netheid van dié besige deel van die dorp te help verseker.

“Vullisverwydering in Bloemhof is die eerste stap na selfbestuur,” verduidelik Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland. “Ons kan nie langer toekyk hoe munisipaliteite week na week misluk om dienste te lewer waarvoor hulle betaal word nie. Dit het tyd geword om self skouer aan die wiel sit en dienste te lewer om ons dorpe skoon en netjies te maak.”

Nel waarsku dat die tempo van staatsverval nou so ernstig is dat gemeenskappe toenemend self planne moet maak om munisipale dienste oor te neem. “Op Bloemhof sal ons egter nie meer net toekyk hoe die verval voortduur en selfs meer skade aanrig nie. Ons sal voortgaan om op te bou en in die belang van die gemeenskap nóg selfdoenaksies aanpak,” verduidelik hy.

Vergeet van vrot vullis – maak gebruik van AfriForum se vullisverwyderingsdiens!

AfriForum nooi inwoners van Bloemhof uit om van dié nuwe vullisverwyderingsdiens gebruik te maak en die gemoedsrus van goeie dienslewering te ervaar. Besoek www.vullisverwydering.co.za vir meer inligting. Sluit vandag nog aan en gaan saam met AfriForum ’n toekoms van selfbestuur tegemoet.

Soortgelyke plasings