|

Bo-Karoo-tak wil jeug betrek by gemeenskapsveiligheid

Die AfriForum-tak in die Bo-Karoo het op 31 Maart ’n inligtingsessie aan jong werkendes en studente van Orania aangebied oor gemeenskapsveiligheid en hul rol hierin as jeugdiges.

Die inligtingsessie is in samewerking met AfriForum se veiligheidstrukture en die Orania Weerbaarheidsvereniging gehou.

Magdaleen Kleynhans, voorsitter van die Bo-Karoo-tak, het verduidelik dat dit belangrik is om deel te wees van ’n struktuur soos ’n AfriForum-tak wat onder meer veiligheidsprojekte kan koördineer.

Theuns Wessels, hoof van die Orania Weerbaarheisdvereniging, het uitgebrei oor hoe veiligheidstrukture in Orania en die omgewing mekaar aanvul om ’n groter verskil te kan maak.

Verder het Mark Kuys, AfriForum se veiligheidshoof vir die suidstreek, benadruk hoe belangrik en voordelig dit vir jongmense is om die verskillende soorte opleiding te ondergaan om sodoende hul gemeenskap te kan dien.

“Drie en twintig lede van die jeug het gedragskodes onderteken wat beteken dat hulle toegewyd is om ’n pad saam met ons te stap. Ons gaan binnekort ’n era betree met die stigting van ons eerste AfriForum Jeug-buurtwag en ons sien uit na verdere samewerking tussen AfriForum se veiligheidstrukture, die Orania Weerbaarheidsvereniging en die Orania Veiligheidsdienste (OVD),” het Kuys bygevoeg.

Om by AfriForum se Bo-Karoo-tak betrokke te raak: SMS “Bo-Karoo” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings