|

Vuil Vaalrivier: Skuldiges moet aan die pen ry

 AfriForum verwelkom Lindiwe Sisulu, minister van water, sanitasie en menslike nedersettings, se versoek dat Ekurhuleni Water Care Company (Erwat) dringend werk daarvan moet maak om die besoedeling van die Vaalrivier hok te slaan. Dit is egter kommerwekkend dat die minister nóú eers ná jare se besoedeling toetree, asook dat sy nêrens noem dat die skuldige partye aan die pen gaan ry nie. Die grootste probleem is ook munisipaliteite wat nie verantwoordelik gehou word vir swak instandhouding nie.

“AfriForum het reeds in 2018 strafregtelike klagtes teen die verantwoordelike partye, wat hul plig versuim, ingedien. Dié klagtes is egter nog hangend. Ons het in 2019 ’n vergadering met die minister versoek, maar dit het op dowe ore geval,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van omgewingsake by AfriForum.

Luidens AfriForum se jaarlikse blou-en-groendruppelverslag is daar ’n drastiese agteruitgang wanneer die uitslag van watermonsters wat in 2017 geneem is met 2018 s’n vergelyk word, terwyl dit in 2019 selfs verder versleg het. Hierdie verslag is ook bekend aan die departement van water en sanitasie (DWS). Die plaaslike AfriForum-tak het ook tevergeefs verskeie aksies geloods om die munisipaliteit tot aksie te dwing.

Sisulu het ook genoem dat sy die gebied tot rampgebied wil verklaar en dat geld dan bewillig gaan word om die krisis op te los. Volgens berigte word bykans R1 miljard benodig om die Vaalrivier te rehabiliteer en indien die geld hiervoor bewillig word, moet die besteding daarvan gemoniteer word om wanbesteding te voorkom.

Soortgelyke plasings