| |

Chrissiesmeer-buurtwag toegerus en gereed met nuwe veiligheidstoerusting

AfriForum se Chrissiesmeer-buurtwag is nou – danksy ’n waardevolle skenking van ses tweerigtingradio’s – toegerus en gereed om die veiligheid van die Chrissiesmeer-gemeenskap selfs verder te pak.

AfriForum se Ermelo-tak het vandeesweek dié ses radio’s sowel as ’n basisstasie aan die Chrissiesmeer-buurtwag geskenk. Hierdie radio’s sal ingespan word tydens die buurtwag se gereelde patrollieskofte sodat buurtwaglede meer doeltreffend met mekaar kan kommunikeer. Gedurende beurtkrag is die selfoonnetwerke in die omgewing hoogs onvoorspelbaar en lede bevind hulself telkens op plekke waar hulle glad nie met die ander buurtwaglede kan kommunikeer nie. Dié tweerigtingradio’s sal daarom help toesien dat die buurtwag hul taak met selfs groter sukses kan aanpak.

Die Chrissiesmeer-buurtwag het in die kort tyd wat hulle aktief is, gegroei van ’n klein groepie mense met uiters beperkte hulpbronne tot ’n volwaardige buurtwag wat nou oor amper alle nodige toerusting beskik. Die buurtwag spog met glimbaadjies, voertuigmagnete, patrollieligte, flitse, koeëlvaste baadjies en nou ook tweerigtingradio’s.

Volgens Millicent van den Heever, leier van die AfriForum Chrissiesmeer-buurtwag, was dié plaaslike buurtwag reeds ’n geruime tyd aan die gang voordat dit by AfriForum se gemeenskapsnetwerk ingeskakel het. Die tekort aan toerusting was voorheen ’n reuse-uitdaging vir dié buurtwag, verduidelik sy. “Dit is juis waarom ons AfriForum genader het. Ons het besef dat ons buurtwag sterker gemaak moet word en dat dit slegs kan gebeur as buurtwaglede die nodige toerusting het en opleiding ontvang. AfriForum het dit vir ons moontlik gemaak,” meen Van den Heever.

“Ons sal aanhou om die Chrissiesmeer-gemeenskap sover moontlik by te staan sodat dié dorpie veiliger kan wees vir almal wat daar woon of dit wil besoek,” sê Jaco van der Merwe, voorsitter van AfriForum se Ermelo-tak.

Raak betrokke by AfriForum se Ermelo-tak en help jou gemeenskap. Besoek gerus www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings