|

Chrissiesmeer veel skoner danksy nuwe volhoubare AfriForum-projek

Dit is slegs ’n maand sedert AfriForum se Ermelo-en-Chrissiesmeer-tak hul asdromprojek op Chrissiesmeer afgeskop het en alreeds is dié dorp in die hartjie van Suid-Afrika se sogenaamde meredistrik aansienlik skoner.

’n Totaal van 18 asdromme is vroeg in Augustus op strategiese plekke by ondernemings op die dorp geplaas en om diefstal van die dromme te verhoed, is dit ook vasgemaak.

Intussen het hierdie skynbaar eenvoudige projek, wat ten doel het om die dorp se netheid te verbeter, reeds merkbare vrugte afgewerp met 23 sakke vullis wat nou al verwyder is.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, is Chrissiesmeer ’n belangrike toerismesentrum in die streek en aangesien die dorp se hele ekonomie van toerisme afhanklik is, is die aanloklikheid van die dorp van kritieke belang. Juis daarom is besluit om hierdie projek op ’n deurlopende basis aan te pak om uiteindelik op ’n volhoubare wyse ’n noodsaaklike en tasbare verskil in die voortbestaan van Chrissiesmeer as ’n toerismedorp te maak.

“Ons dorp is reeds veel skoner danksy dié projek. Ons beoog om in die komende maande nog soortgelyke projekte aan te pak en sodoende Chrissiesmeer in sy volle se prag te herstel,” verduidelik Millicent van den Heever, buurtwagleier van AfriForum se Chrissiesmeer-buurtwag.

Inwoners word versoek om AfriForum se Ermelo-en-Chrissiesmeer-tak te ondersteun. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings