|

AfriForum verwelkom dat polisie nie net Engelse diens moet gee nie – sal implementering dophou

Die burgerregteorganisasie AfriForum verwelkom dat genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris volgens mediaberigte opdrag aan alle provinsiale kommissarisse sal gee om enige opdragte oor die taal van dienslewering wat nie in lyn met die nasionale beleid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is nie, terug te trek. Dit volg op ’n opdrag van die Wes-Kaapse polisiekommissaris, luit. genl. Thembisile Patekile, dat alle A1-verklarings en amptelike dokumentasie van die SAPD in dié provinsie in die vervolg slegs in Engels moet wees. Volgens die nasionale taalbeleid word Afrikaans, Xhosa en Engels in die Wes-Kaap gebruik, en moet die publiek ook so ver as moontlik in enige ander taal bedien word.

Nadat die opdrag van die Wes-Kaapse polisiekommissaris bekend geraak het, het AfriForum en Solidariteit hom skriftelik herinner aan die vereistes van die taalbeleid en gevra om bevestiging dat sy opdrag teruggetrek is. Die regspanne van die instellings is gereed om met regsaksie voort te gaan as die opdrag nie teruggetrek word nie en sal die dienslewering van die polisie in die Wes-Kaap monitor.

Volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, word die kommissaris ook herinner dat die SAPD terugvoer aan die burgerlike samelewing verskuldig is, en nie net aan politieke partye nie.

Intussen het lede van die publiek oorweldigend op ’n vraag van AfriForum aangedui dat hulle glo dat mag van die nasionale regering na provinsies afgewentel moet word – onder meer sodat die polisie diens sal lewer in die taal waaraan die gemeenskappe waarin hulle gestasioneer is, behoefte het. Tans word lede van die SAPD dikwels gestasioneer in provinsies waar hulle nie die plaaslike tale kan praat nie. “Dit skep die risiko dat sake nie aangemeld word nie, of dat taalfoute kan voorkom in verklarings wat afgeneem word, met die gevolg dat slagoffers ’n hofsaak verloor omdat hulle weergawe in die hof van dié in die oorspronklike verklaring verskil,” sê Bailey. “Regsverydeling van dié aard kan nie toegelaat word nie.”

Enigeen wat taalprobleme ondervind wanneer met die polisie gekommunikeer word, is welkom om die inligting te stuur aan afriforum@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings